Aardklop 2016: Van Taxi-teater tot komedie, én meer


Aardklop (Foto: Verskaf)

Aardklop (Foto: Verskaf)

Die Aardklop-kunstefees word vanjaar van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied, en vanjaar se propvol toneelprogram kan ʼn hoogtepunt op jou kultuurkalender wees.

Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder, sê die fees bied vanjaar ʼn gebalanseerde toneelprogram aan wat vir elke smaak voorsiening maak.

Dit is veral bekende akteurs wat in verskeie produksies gaan optree wat ʼn trekpleister is – mense soos Antoinette Louw, Milan Murray, Ivan Botha, Donnalee Roberts, Neels van Jaarsveld, Jana Strydom, Eric Holm, Dowwe Dolla, Elize Cawood en Wilson Dunster.

Benewens ʼn stewige toneelaanbod spog die program vanjaar met die ATKV Tienertoneel, intieme teater, kinderteater en komedie.

Die eindronde van die ATKV-Tienertoneel-kompetisie word vanjaar vir die tiende keer aangebied. Die 16 top-produksies uit die ongeveer 200 deelnemende skole sal hul passie vir teater uitleef tydens die eindronde van dié kompetisie. Die oogmerk met die kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek en ook om kreatiwiteit en talent te ontgin en te ontwikkel.

“Ons het vanjaar ʼn groot teateraanbod,” sê Strachan. “Sommige van die produksies het reeds groot sukses behaal, soos ʼn Geworry en Pa, terwyl ander nuutskeppings is wat gaan debuteer, soos Beurtkrag van Ivan Botha en Donnalee Roberts.

“Daar is natuurlik ook produksies wat reuse-geselskappe en ontwerpe het wat teatergangers byna net op Aardklop sal kan sien. Sulke produksies is onder meer Heidi, Hond se gedagte en Die vrou uit die see. Dis reusagtige produksies en dis produksies wat op Aardklop gesien móét word.”

Vanjaar se Taxi-teater is nog ʼn hoogtepunt. Vier plekke, die Potch-dam, Vida Verde in die suide van die dorp, Ikageng en Promosa, is geïdentifiseer waar teatergangers gebruik kan maak van taxi-vervoer om feesgangers die geleentheid te gee om saam met plaaslike taxi bestuurders die diversiteit van Potchefstroom se gemeenskap, kos  en kultuur te ervaar.

“Ons is ook besig om talent in en om die dorp te soek vir wie ons ʼn platform wil gee by dié plekke saam met reeds gevestigde kunstenaars. Dis soos ʼn gelukspakkie,” het sy bygevoeg.

Strachan sê kaartjieverkope vir die verhoogproduksies is reeds goed op dreef. “Die verkope doen sover geweldig goed. Dit het ook baie te doen met die kaartjiepryse. Die pryse by die hekke is drasties verminder en mense kan nou geld op produksies uitgee.”

Verblyf in Potchefstroom is ook blitsvinnig besig om op te raak. “Gastehuise raak vol en dis altyd ʼn goeie aanduiding oor die voorlopige ondersteuning. Mense moet vinnig spring om verblyf te kry!”

Luister na Maroela Media se gesprek met Alexa Strachan, feesbestuurder.

Lees alle berigte oor Aardklop op Maroela Media.

Lees die Aardklop-program. Besoek die Aardklop-webwerf en Facebook-blad.

Koop nou jou kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

johann, dis nou snaaks, ek het nog altyd die wonderlikste handgemaakte kuns artikels by beide kunstefeeste te koop gesien! Maar nou-ja jy hoef dit natuurlik nie by te woon as dit jou opinie is nie!

Eliza-beth ·

..en tog hou die mense daarvan en is daar regte kunsliefhebbers wat soontoe gaan vir goeie toneel en goeie musiek en goeie egte kuns. Ek het al ‘n skildery gekoop teen ‘n goeie prys en vandag is dit sommer baie meer werd. Mens soek maar die diamante tussen die klippe. Die snediges kan gerus tuisbly…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.