Aardklop: De Klerk Oelofse in twee stukke te sien

de-klerk-oelofse

Foto: Facebook

De Klerk Oelofse het as akteur geen bekendstelling nodig nie. Aanhangers van die kykNET-reeks Die Boekklub 2 sal hom herken as Lourens Marais, die nuwe speurder op Merweville. Hy is ook geen vreemdeling op teaterverhoë nie. Vanjaar is hy terug op die Aardklop Nasionale Kunstefees in die solovertoning, Strooijonker, asook in die Nico Scheepers-produksie, Nêrens, Noord-Kaap.

Strooijonker

De Klerk vertel Strooijonker is nie sy eerste kennismaking met ʼn solostuk nie. “Ek het in 2013 op Aardklop gedebuteer met my eerste solostuk, Na-aap, met Jaco Bouwer as regisseur. Ek het daardie jaar, hoeka op pad na ʼn onderhoud met Maroela Media, by ’n stel trappe afgeval en die ligamente in my enkel geskeur. Ek moes ongelukkig die res van my Na-aap-vertonings op die fees kanselleer,” vertel hy.

Vanjaar sien hy egter uit om gehore te vermaak as Lukas Basson, strooijonker op sy beste vriend, Jean Vorster, se troue. Lukas moet die strooijonkers-toespraak lewer, maar hy is nog al die jare verlief op Jean se bruid, Cheryl Lieberman. Die kombinasie van hoë emosie en die vonkelwyn wat vloei is net een te veel vir die stomme Lukas.

strooijonkerLukas raak gou die pad byster en voor hy kan keer, bevind hy homself kniediep in die Vorsters, die Liebermans én sy eie vuil wasgoed – ten aanskoue van die geskokte gaste.

De Klerk sê hy geniet dit om die rol te vertolk omdat daar soveel ruimte is vir improvisasie. “Die stuk is so geskryf dat Lukas gereeld afdwaal van die oorspronklike toespraak wat hy geskryf het. Dit is ook ’n groot fisieke uitdaging om geleidelik die effek van elke glasie vonkelwyn aan te dui en dit alles terwyl ek Lukas se hele emosionele landskap saam met my probeer dra.

“Net so gee die regisseurs vir my die vryheid om van die teks af te dwaal as ek in die oomblik ’n gaping sien vir ’n kwinkslag of twee,” sê De Klerk oor Louw Venter en Rob van Vuuren van Corné en Twakkie-faam, wat die regie behartig. “Hoewel dié twee absolute konings van komedie is, is hulle ook konstant opsoek na die waarheid in elke oomblik. Dit het my as akteur ’n bietjie losgeskud en laat besef ek hoef nooit bang te wees om ook soms ’n bietjie weerloos te wees nie.”

De Klerk sê hy glo Strooijonker is meer ’n ervaring as wat dit ’n toneelstuk is. “Gehore moet kom asof hulle na ’n ou skoolvriend se troue toe gaan. Hulle kan ook verwag om elkeen bederf te word met ’n glasie Four Cousins-vonkelwyn, want wat is ’n troue sonder vonkelwyn?” skerts hy.

Strooijonker het ʼn ouderdomsbeperking van 14. Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by Computicket.

Nêrens, Noord-Kaap

nerens-noord-kaapDie verhoogstuk Nêrens, Noord-Kaap word beskryf as ʼn skreeusnaakse en hartroerende produksie en is die vennoot van die trefferstuk, Amper, Vrystaat. Die stuk vertel die verhaal van drie broers en ’n weggooi-dorpie ver in die Noord-Kaap.

De Klerk vertolk die rol van die jongste broer, Andries Adendorff. “Hy is ʼn fotograaf wat reg oor die wêreld reis. Hoewel hy die verste van die familieplaas, Nêrens, is, blyk dit dat hy na al die jare steeds die appel van sy pa, Lourens, se oog is. Daar is meer aan Andries se reise as net foto’s neem, maar sy broers en sy pa weet dit nog nie. Andries is ’n man van min woorde en ek dink ek moet nou ’n blaai uit sy boek neem, anders mag ek dalk te veel verklap,” vertel hy.

Albert Pretorius en Geon Nel vertolk die rolle van Andries se twee broers. “Met die karakters en storie reg moes Nico gaan sit en dit alles in woorde op die bladsy sit. Hy skryf regtig mooi en omdat ʼn mens saam met hom aan hierdie karakters geskep het, is jou huiswerk amper gedoen teen die tyd dat jy begin woorde leer en vloer toe gaan,” vertel De Klerk.

“Wat my opval met die terugvoer van mense wat al die stuk gesien het, is dat die karakters vir hulle so bekend voel. As daar nie iets van jouself in een van die drie Adendorff-boeties is nie, ken jy beslis iemand soos hulle. Hulle kan jou lekker laat lag en as hulle soms goed uitblaker sonder om te dink, kan dit nogal diep sny. Daar is gewoonlik na die vertonings talle mense op hulle fone, besig om huis toe te bel…”

Nêrens, Noord-Kaap het ʼn ouderdomsbeperking van 16. Kaartjies kos R125 en is beskikbaar by Computicket.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.