Aardklop: Gehore, feeste ‘voed’ kunstenaars

Van links na regs: Alexa Strachan (gespreksleier), Sandra Prinsloo, Marion Holm en Frank Opperman gesels oor die uitdagings van solovertonings. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

“Ek het besef ek moet werk skep vir myself. Dít is hoekom ek met solovertonings begin het.”

Dit is die woorde van Marion Holm tydens een van die kunstenaarsgesprekke tydens vanjaar se Aardklop-opwipfees.

Solovertonings

Holm, tesame met Sandra Prinsloo en Frank Opperman, het onder leiding van Alexa Strachan, uitvoerende hoof van Aardklop, gesels oor die uitdagings van solovertonings.

Min akteurs sien kans vir, en is kommersieel suksesvol met solovertonings. Buiten vir die alleenheid, is akteurs wat in hierdie genre skep grootliks in beheer van hul eie wêreld.

In ensemble vertonings is daar ʼn gedeelde verantwoordelikheid en ritme van medeakteurs waarop ʼn akteur kan staatmaak. Solostukke het nie die waarborg van ʼn groot tegniese span en ander akteurs nie. Waarom durf akteurs dan steeds solovertonings aan?

Holm het dit om den brode begin doen en sy sê hoewel haar stukke nie noodwendig literêr van aard is nie, maak dit ʼn verskil in mense se lewens.

“Ek onthou daar het een keer ná ʼn vertoning ʼn vrou na my toe gekom by wie op daardie einste dag kanker gediagnoseer is,” vertel sy.

“Die vrou het ná die vertoning vir my kom sê dat my vertoning haar moed gegee het om aan te gaan. Dit is nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie. Sulke stories vuur my aan – dit is hoekom ek doen wat ek doen.”

Frank Opperman vertolk die rol van Seb in die solostuk “Ek wens, ek wens”. (Foto: Facebook)

Opperman sê dat hy ook uit nood begin het om solostukke te doen. Hy het al verskeie tekste van Dana Snyman opgevoer, soos Hond, Donkie en Steeds Donkie, en het jare saam met die regisseur en akteur Gerrit Schoonhoven gewerk, wat in 2020 dood is nadat kanker by hom gediagnoseer is.

In Ek wens, ek wens, wat op vanjaar se Aardklop-opwipfees gedebuteer het, speel Opperman verskeie rolle; iets waaraan hy nog gewoond moet raak. “Ek wens, ek wens is skrikwekkend, maar dit is ʼn lekker uitdaging,” sê hy.

“Ek is nog besig om die rolwisseling te ontdek; ʼn ou moet nogal kophou met die verskillende liggaamstaal en dialoog. Aan die begin het ek gedink ek gaan dit nooit baasraak nie. Ek moes dit ʼn 100 keer oordoen voor ek dit reggekry het.”

Die kunstenaars stem saam dat dit uiters belangrik is om bekwame tegnici aan boord van die produksie te kry, omdat dié persone ʼn groter taak verrig as om bloot tegniese ondersteuning te bied.

“Die tegniese persoon word soos ʼn tweede akteur,” sê Prinlsoo. “Dit gaan oor die vertroue wat jy het in die span wat saam met jou werk.”

Feeste is ʼn ‘freak show’

Strachan het tydens nog ʼn ander feesgesprek met Chris van Niekerk, Deon Lotz, Brendon Daniels en Christo Davids oor die pret en plesier van feeste gesels.

Die kunstenaars het hul soms werklik ongelooflike ervarings gedeel: van gedeelde verblyf in koshuise saam met entoesiastiese feesgangers tot kampeerders wat onverwagse verskynings op die verhoog maak.

Davids het staaltjies gedeel oor verhoë wat beweeg terwyl hulle besig was met die vertoning en obskure feeste wat langs ʼn rivier of in groot veldtente aangebied is.

Van links na regs: Alexa Strachan (gespreksleier), het tydens nog ʼn ander feesgesprek met Christo Davids, Chris van Niekerk, Deon Lotz en Brendon Daniels oor die pret en plesier van feeste gesels. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Kunstenaars het ook nie altyd beheer oor waar die feeskomitee hulle plaas nie en beland dan soms op interessante plekke.

Strachan vertel: “Ek en Margit (Meyer-Rödenbeck) het een jaar met Aardklop tuisgegaan in ʼn huis met twee luislange en ʼn ouma op ʼn respirator.”

Van Niekerk onthou dat ʼn feesganger hom eens vir ʼn foto genader het wat sy vir iemand wat nie die fees kon bywoon nie moes stuur, maar hy moes glo nie glimlag nie omdat sy tande skeef is.

Feeste is dalk ʼn freak show, maar daarsonder sal kunstenaars letterlik en figuurlik nie kan oorleef nie.

“Kunstefeeste het my die geleentheid gegee om my werk aan ʼn wyer gehoor bekend te stel,” sê Davids.

“Dit gaan oor die eenheid tussen kunstenaars en boonop is daar min ander plekke waar jy een oomblik ʼn Marthinus Basson-stuk kan kyk en direk daarna by ʼn ander venue iets deur PG du Plessis sien.”

Daniels en Van Niekerk beklemtoon dat feeste en teaterwerk alleen nie voldoende is om die pot aan die kook nie. Maar, voeg Daniels by, die kreatiewe samesyn wat feeste bied voed sy siel.

Stories oor studenteresensies in feeskoerante, poetse soos rekwisiete wat wonderbaarlik verdwyn en akteurs wat na honderde vertonings van die dieselfde produksie woorde vergeet, is van die herinneringe wat kunstenaars opgediep het vir dié gesprek.

Drama nie ʼn ‘regte’ werk

“Ek wil drama swot, maar my pa sê dit is nie ʼn regte werk nie.”

Vir baie ouers is dit een van die grootste ontnugterings wanneer hulle kind vol bravade aan die einde van hul matriekjaar aankondig dat hulle drama wil studeer. Sommige ouers stem teësinnig in, terwyl ander botweg weier. Hoe gaan my kind oorleef en wie gaan hulle onderhou? Drama is mos nie ʼn regte werk nie?

Strachan en ʼn paneel met Sandra Prinsloo, Christo Davids en Tinarie van Wyk Loots het Saterdag tydens ʼn informele gesprek oor hulle ouers se ondersteuning, mense se wanindrukke van hul beroepe en die harde werk wat dit verg om te oorleef, gesels.

Tinarie van Wyk Loots speel die rol van Mara in ‘Opdrifsel’ en teenoor haar is Brendon Daniels in die rol van Bernard. Die produksie was by vanjaar se Aardklop-opwipfees te sien. (Foto: Verskaf)

“Toe ek die eerste keer in ʼn teater op die verhoog gestap het, het ek geweet dit is ʼn heilige plek,” sê Van Wyk Loots. “Ek is regtig dankbaar dat my ouers van die begin af ondersteunend was en my toegelaat het om my drome na te jaag.”

Van Wyk Loots sê verder hoewel haar ouers die beroepkeuse ondersteun het, het haar pa tog bepaalde voorwaardes gehad.

“My pa se vereiste was dat ek maandeliks spaar en voorsiening maak vir pensioen. Iets soos die Covid-19-pandemie het dinge nie maklik gemaak nie. Ek het laasjaar baie geld by myself geleen.”

Davids se pa is steeds oortuig dat hy “speel-speel deur die lewe gaan” en nie ʼn regte werk het nie. Die dag toe Davids uit sy rol as Errol by 7de laan bedank het, het sy pa glo vir sy ma gesê: “Sien jy! Ek het jou gesê. Nou moet Cindy (Davids se vrou) na hom kyk.”

Davids kom uit ʼn teaterfamilie wat altyd by amateur- en professionele teater betrokke was. Sy oupa, Goliath Davids, het hom van kindsbeen af voorberei vir ʼn loopbaan in teater.

Goliath was ʼn bekende dramaturg, verhoogkunstenaar, televisie- en rolprentster en sal vir sy rol as Selling Komoetie in die rolprent Fiela se kind onthou word.

“My oupa het vir my gesê: ‘Jy hoef nie drama te gaan swot nie, ek leer jou sommer by die huis’.”

Strachan, ook ʼn skrywer en aktrise, onthou dat haar pa nie te ingenome was met haar besluit om drama te studeer nie. “My het vir my gesê ek moet ʼn bibliotekaresse of onderwyseres word, want dan sal ek op enige plek waarheen my man verplaas word ʼn werk kry.”

Die kunstenaars meen dat talle mense ʼn wanindruk oor die beroep het en ontsien hoe hard kunstenaars moet werk om te oorleef.

“Die oomblik as dit jou beroep word, verander die reëls. Daar is nie iets soos vakansiedae of naweke nie. Jy mis baie begrafnisse en verjaardae en jy mag nie siek word nie. Ek is baie dankbaar om te kan doen waarvoor ek lief is, maar dit is baie harde werk,” sê Van Wyk Loots.

  • Die Aardklop-opwipfees het van Woensdag 30 September tot Sondag 3 Oktober in Pretoria plaasgevind. Klik hier om meer te lees oor die gesprekke en produksies wat by vanjaar se fees aangebied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.