Aardklop: ‘Grensverskuiwende’ teater met één gehoorlid, één akteur

DEURnis (Foto: Facebook)

ʼn Produksie met één akteur en één gehoorlid – ʼn nuutjie in Suid-Afrikaanse teater – maak vanjaar ʼn draai by die Aardklop Nasionale Kunstefees wat in Oktober op Potchefstroom in Noordwes aangebied word.

Die teaterwêreld gons behoorlik oor DEURnis – ʼn produksie met 12 afsonderlike toneelstukke waar die teaterganger as’t ware deel word van dié fiksieverhaal wat nét tussen hom en die akteur afspeel.

Dié toneelstukke spreek kwessies aan, sommige alledaags en ander minder algemeen, waarmee talle wroeg. Die kwessies verwys onder meer na dié waaroor mense “nie gereeld” wil gesels of nie “eerlik en gemaklik” genoeg is om in ʼn gesprek te opper nie, maar tog wel kwessies waaroor hulle sou wou praat. DEURnis skep juis dié perfekte platform – intiem tussen net twee mense – vir die akteur om die eerste keer sy hart uit te stort oor die spesifieke kwessie.

Teatergangers kan onder meer uitsien na stukke soos dié van ʼn Olimpiese swemmer wat ʼn skouer nodig het oomblikke voor die grootste kompetisie in sy lewe en loopbaan, ʼn vrou wat etlike oomblikke voor haar troue koue voete kry, ʼn mensehandel-slagoffer wat weer moet heel raak, ʼn student wat al agt jaar aan ʼn vierjaarkursus studeer en meer van die lyflike behoeftes van die dorp se inwoners ken as haar eie werk maar nou ʼn keerpunt bereik, ʼn man met ʼn behoefte om net in te pas, asook ʼn skoolseun met ʼn verbode liefde.

Koud (Foto: Facebook)

Dié produksie word vervaardig deur Theatrerocket – ʼn produksiemaatskappy onder leiding van Rudi Sadler en Johan van der Merwe wat onder meer ook Die reuk van appels vervaardig het waarvoor Gideon Lombard ʼn Kanna vir beste akteur by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gewen het.

“Sover ons kan vasstel, was daar nog nie voorheen so iets in Suid-Afrika nie – natuurlik kan iemand so ʼn produksie in ʼn huis in die Verre Weste gehou het en ons sou nie daarvan weet nie, maar dit is die eerste verskyning by ʼn kunstefees,” vertel Sadler.

Van der Merwe en Johann Smith, wat onder meer help skryf het, het die idee vir DEURnis by twee afsonderlike geleenthede in Skotland en Nederland teëgekom.

“Die produksie is grensverskuiwend. Dit is baie uniek en ook intiem. Wanneer die teaterganger in die produksie is, vergeet hy telkens dat hy na ʼn produksie kyk omdat hy dit só intens ervaar dat hy byna deel van die storielyn word. Dit word amper realiteit. Wat ook anders is in die produksie, is dat die gehoorlid aangespreek word asof hy ʼn karakter in die storie is – die akteur voer dus ʼn gesprek met hom, maar daar word nie van hom verwag om terug te praat of iets te doen nie.”

Sadler sê die toneelstukke lewer sosiale kommentaar. “Sekere dinge is taboe – mense praat bloot net nie so maklik daaroor nie. In die produksie is dit byna asof die akteur een tot een nou die geleentheid kry om met ʼn ou vriend, die gehoorlid, oor die kwessie te praat.”

Kaartjies verkoop soos soetkoek – as jy dus dié produksie tydens Aardklop wil sien, gaan jy moet spring. Die produksie word in vier pakkette verkoop: een pakket bevat drie toneelstukke van sowat 20 minute elk. Jy kan een of meer van die pakkette koop.

Só lyk die pakkette:

Pakket 1

  • Koud met Ben Pienaar (Teks en regie: Henque Heymans)
  • Broei met Melinda Brink (Teks: Corné Joubert/Regie: Shareen Swart)
  • Swem met Jannes Erasmus (Teks: Jannes Erasmus/Regie: Johan van der Merwe)

Pakket 2

  • Rou met Dewald van der Merwe (Teks: Henque Heymans/Regie: Esther Rossouw)
  • Hoffie met Llewellyn Steenkamp (Teks en regie: Johann Smith)
  • Student met Juanita de Villiers (Teks: Braam van der Vyver/Regie: André Velts)

Pakket 3

  • Home met Aneshree Paul (Teks en regie: Aneshree Paul)
  • Winkelpop met Tiaan Slabbert (Teks: Braam van der Vyver/Regie: Johan van der Merwe)
  • Toets/Test met Roche van Blerk en Renos Spandoudes (Engels) (Teks en regie: Johann Smith)

Pakket 4

  • Vry met Zander de Beer (Teks en regie: Johann Smith)
  • Anders met Emil Haarhoff (Teks: Henque Heymans/Regie: Jannes Erasmus)
  • Bang met Elani Dekker (Teks en regie: Shareen Swart)

Kaartjies kos R220 en is beskikbaar op Computicket. Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

Winkelpop (Foto: Facebook)

Vry (Foto: Facebook)

Toets/Test (Foto: Facebook)

Swem (Foto: Facebook)

Student (Foto: Facebook)

Rou (Foto: Facebook)

Koud (Foto: Facebook)

Home (Foto: Facebook)

Hoffie (Foto: Facebook)

Broei (Foto: Facebook)

Bang (Foto: Facebook)

Anders (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Briljante konsep.
Wonder of mens dit sal kan hanteer – so geweldig persoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.