Aardklop: ‘Half leeg’ bied ʼn snit van die lewe

Half-Leeg

Foto: Verskaf / Nardus Engelbrecht

Victoria, ʼn selferkende romantikus, bevind haarself op 30-jarige ouderdom een aand laat in ʼn donker kroeg. Sy roer haar whisky met ’n strooitjie, hou die deur fyn dop en wag vir iets wat sy besef dalk nooit gaan kom nie.

Só praat Cintaine Schutte, bekend vir haar legio teaterrolle, oor Half leeg, die produksie wat vanjaar op die Aardklop Nasionale Kunstefees debuteer. “Dit is ook my eerste solovertoning, waaroor ek verskriklik opgewonde is,” sê sy.

“Victoria sê ʼn ding soos dit is, met ʼn skerp sin vir humor, maar sy is terselfdertyd ook baie sensitief,” sê Cintaine oor dié karakter. “Terwyl sy in die kroeg sit en wag, besin sy oor die omstandighede wat haar tot by hierdie punt gelei het: Die verskriklike hennepartytjie, die ander vrou en die besef dat die man van haar drome dalk nie alles is wat hy sê hy is nie.”

Cintaine vertel die stuk het reeds in 2014 oor haar pad gekom toe die skrywer en vervaardiger Tara Notcutt haar daarmee genader het. “Ek en Tara het mekaar ontmoet tydens ons studentejare aan die Universiteit van Kaapstad. Ons het ná dramaskool saam gewerk aan twee produksies en in 2014 wou Tara weer vir my die hoofrol gee in haar Engelse drama getiteld Last Rounds. Ek het toe die rol van Bloesie gekry in die fliek Knysna en die produksie het toe sonder my voortgegaan,” vertel sy. “Nou, vier jaar later, het Tara voorgestel ons probeer weer.”

Amy Jephta, dramaturg en onlangse wenner van die toekennings vir beste draaiboek en beste kortfliek vir Soldaat op vanjaar se Silwerskermfees, het die vertaling van Last Rounds gedoen. “En so is Half leeg gebore,” sê Cintaine. “Soos wat ek en Tara nou sit en die teks analiseer, kom ons agter die vertoning is nou heeltemal anders as toe dit as Last Rounds op die verhoog was. Die teks het soveel ontwikkel en gegroei.”

Cintaine, wat onlangs die rol van Jeanne vertolk het in die kykNET-komediereeks Phil101, vertel Half leeg is ʼn snit uit die lewe van hedendaagse 30-jariges en selfs ander ouderdomsgroepe. “Ons lewe in ʼn samelewing waarin ons heeltyd via sosiale media aan mekaar verbind is, maar tog práát ons nie genoeg met mekaar nie en maak nie egte konneksies nie,” verduidelik sy. “Ons lewens lyk goed op sosiale media.”

“Victoria is moeg daarvoor om links of regs te vee oor haar foon om te weet of sy aanvaarbaar is vir die samelewing. Almal kan daarmee vereenselwig in dié era waarin ons leef. Ons het ʼn magdom inligting tot ons beskikking deur middel van Google, maar steeds weet ons so min van mekaar omdat ons nie meer regtig gesels nie.

“Baie interessante goed gebeur ook wanneer jy as akteur saam met die regisseuse op die verhoog klim, maar dit is ook belangrik om genoeg tyd om die tafel deur te bring met ʼn teks voordat ʼn mens dit na die verhoog neem,” sê sy.

“Dis net ʼn storie wat vertel word uit die hoekie van ʼn donker kroeg – daar is geen fieterjasies en foefies nie. Die stuk fokus op menslikheid en ek hoop elke persoon wat daarna kom kyk, maak nie saak hoe oud hulle is nie, kan iets daaruit neem of leer,” sê Cintaine.

“As aktrise werk ek hard daaraan om Victoria se menslikheid na vore te bring en haar nie net ʼn karakter te maak nie. Ek wil hê sy moet die meisie wees met wie jy vriendinne sou wees, die meisie by die kafee op die straathoek, die meisie saam met wie jy gimnasium toe sal gaan,” vertel Cintaine.

“Op die oppervlak is baie mense net dit wat hulle wil hê mense moet sien, maar aan die binnekant is daar ʼn warboel van emosies. En dit is wat ek graag wil tuisbring by die kyker.”

Half leeg het ʼn ouderdomsbeperking van 16. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket. Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CK ·

Welgedaan Cintaine! Sal dit verseker kom kyk. Ma-Hesté se bors bars verseker van trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.