Aardklop: ‘Is bloed dikker as water’, vra ‘Winterboom’

Winterboom-AardklopWessel Pretorius se verhoogdrama Winterboom wat op vanjaar se Vrystaat Kunstefees gedebuteer het, is van 3 tot 7 Oktober ook op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom te sien.

Die drama handel oor ene Gerda Harmse, vertolk deur veteraan-aktrise Susanne Beyers, wat haar herehuis op die plaas Winterboom op pak om op Somerset-Wes te gaan aftree. Haar seun, Marius, vertolk deur Jaco Nothnagel, plaas die items wat hulle nie kan saamneem nie, op die internet om te verkoop. Dis dan wanneer Ané Volschenk, vertolk deur Cintaine Schutte, haar opwagting maak. Sy kom om na ʼn trourok te kyk, maar sy bring ook geheime saam met haar plaas toe.

Die regisseur is Mari Borstlap. Benewens sy vertolking van die rol van Marius Harmse is Jaco ook tegniese regisseur en vervaardiger.

“Dit is vir my belangrik om ʼn volronde, eerlike en driedimensionele karakter te ontwikkel, want ek voel Wessel het baie goed daarin geslaag om hierdie karakters vir ons op papier te skep,” sê Jaco. “Die keuses wat Marius doen is heeltemal teen my aard, so ek moes regtig diep soek na redes waarom hierdie karakter so sal optree. Ek kom ook uit ʼn baie gelukkige huishouding, so dit was werklik ʼn sprong om hierdie karakter te ontdek en dan voor te stel.”

Volgens Cintaine wag sy en Susanne al jare om saam te werk aan ʼn produksie. “Baie mense het al vir ons gesê ons trek op mekaar en ons kan ma en dogter speel,” vertel sy. “Ons vra toe vir Wessel Pretorius om vir ons ʼn stuk te skryf en hy sê toe hy dink ons kort ʼn derde karakter. Ons het vir Jaco genader om die rol te speel van Gerda se seun. Dit is ʼn baie lekker geselskap.”

Kort voor die Aardklop-speelvak sê Cintaine is die stuk steeds besig om te ontwikkel en te groei. “Na elke speelvak besin jy, en jy sê goed, hierdie kan verander of daardie kan verbeter. Dis ʼn aanhoudende proses,” sê sy. “Dit gaan vir my interessant wees om te sien wat nou met die stuk gaan gebeur tydens Aardklop.”

Winterboom

Susanne Beyers, Cintaine Schutte en Jaco Nothnagel in ‘Winterboom’. Foto: Verskaf / Maryke Howard

Dié gesinsdrama raak temas soos aanneming, aanvaarding en identiteit aan. “Vandat Ané Volschenk in die wêreld gekom het, weet sy nie waar sy behoort nie,” vertel Cintaine. “Sy is ʼn baie delikate karakter om mee om te gaan. Sy is goed tot op die been. ʼn Mens kan baie by haar leer.”

Volgens Jaco word die vraag “is bloed dikker as water” herhaaldelik deur die stuk gevra. “In terme van die moeilike onderwerp van aanneming het ons in ons navorsing gevind dat mans gewoonlik nie gereeld die tog aanpak om hulle geboorte-ouers op te spoor nie.”

Cintaine stem saam. “Die stuk is vir my amper soos ʼn sagte wattetjie wat in die gehoor se hande geplaas word en hulle maak dit stadig oop saam met elke karakter soos wat die karakter se mure afbreek.”

 

Winterboom het ʼn ouderdomsbeperking van 13. Kaartjies kos R140 en is beskikbaar by Computicket. Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Navorsing is ook soms verkeerd en subjektief. Mans praat dalk net nie so baie soos vroue oor hul soektogte en pyn nie en ervaar die verwerping moontlik selfs baie erger, wat dan dikwels neig na ‘n erge minderwaardigheidskompleks. ‘n Hiper-drang na erkenning volg en die gepaardgaande angsneurose maak so ‘n mens ‘n moeilike lewensmaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.