Aardklop: Kom redekawel saam!

Aardklop (Foto: Facebook)

As jy graag redekawel, kan jy binnekort by die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom deelneem aan niks minder nie as 12 “Redekabel”-gesprekke oor alles van politiek en grondkwessies tot die invloed van sepies op die samelewing.

Dié gesprekkereeks word in drie dele verdeel. Die “Redekabel”-gesprekke word soggens tussen 10:00 en 11:00 aangebied, Netwerk24 se “Sake en sauvignon”-sakegesprekke word tussen 14:00 en 15:00 aangebied en Landbouweekblad en ABSA se “Landbou en braaivleis”-gesprekke word saans tussen 18:00 tot 19:00 aangebied.

“Redekabel” skop op 3 Oktober om 10:00 af met ’n gesprek oor die invloed van sepies op die samelewing. Christo Davids, 7de Laan-akteur en regisseur, Gideon Lombard, Suidooster-akteur, en Elsje Stark, die stigter van Generations en Binnelanders, gaan dié gesprekke fasiliteer.

Feesgangers kry ook tydens dié gesprekkereeks die seldsame geleentheid om met verskillende politici te gesels oor brandpunte soos grondhervorming en die land se politieke toekoms.

Dr. Matthews Phosa (anti-apartheidsaktivis en voormalige premier), John Steenhuisen (DA-hoofsweep) en Supra Mahumapelo (die ANC-leier in Noordwes) sê op Vrydag 10 Oktober hul sê oor die 2019-verkiesing, en praat prontuit oor die moontlikheid van ’n regering van nasionale eenheid.

Bantu Holomisa (UDM-leier), en Floyd Shivambu (die EFF se adjunkpresident) neem op hul beurt deel aan ’n debat oor grondhervorming.

Noordwes se landbougemeenskap en ander belangstellendes kan ook uitsien na vier vroegaand-gesprekke oor alles van plaasveiligheid tot landbouproduktiwiteit. Verskeie landbou-organisasies, waaronder Agri SA, Senwes, Suidwes Landbou, Agribiz en TLU SA, se topkenners neem aan die gesprekke deel.

Onder die 12 gespreksleiers tel die gewilde RSG-aanbieders Suzanne Paxton en Anita Visser, Barnard Beukman, Beeld-redakteur, en Kabous Meiring, Prontuit-aanbieder op kykNET.

Die “Redekabel”-reeks staan onder leiding van die skrywer en mediapersoonlikheid Ivor Price, wat ook in sy hoedanigheid as ’n Aardklop-direksielid ’n gesprek gaan fasiliteer.

Al die gesprekke word vanjaar gratis by die NWU Besigheidskool aangebied. By die oggendgesprekke kan feesgangers ’n koppie koffie en Beeld vir slegs R10 koop, terwyl ’n glas wyn by Netwerk24 se “Sake en Sauvignon” ingesluit is. Vir die “Landbou en braaivleis”-gesprekke kan ’n glas wyn en braaivleis vir R120 by Computicket gekoop word en na afloop van die vroegaand-debatte geniet word. Al die gesprekke is egter gratis en niks bykomend hoef gekoop te word nie.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.