Aardklop se hartsvriende deel toekennings uit

Frank Opperman vertolk die rol van Seb in die solostuk “Ek wens, ek wens”. Hy is vanjaar as beste akteur aangewys. (Foto: Facebook)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat vanjaar ʼn opwipfees by verskillende plekke en teaters in Pretoria aangebied het, het Dinsdag aanlyn ʼn handjievol Hartsvriende-toekennings vir rolspelers in dié fees uitgedeel.

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop, en die akteur Pierre Breytenbach het die geleentheid aangebied.

Vanjaar se toekenningsgeleentheid het nie oudergewoonte met ʼn benoemingsproses wat deur ouditeure en buitepartye nagesien is, verloop nie. Die Aardklop Hartsvriende, wat die topkaartjiekopers van die fees is, het die wenners van die onderskeie toekennings gekies.

Die gesoute akteur Frank Opperman, wat tans in die gewilde kykNET-reeks Nêrens, Noord-Kaap te sien is, het die prys vir beste akteur gekry vir sy rol in die toneelstuk Ek wens, ek wens. Die stuk is verwerk en geregisseer deur Philip Rademeyer. Alexa Strachan en Anna Davel is die vervaardigers.

Die stuk is geskoei op Zirk van den Berg se gelyknamige sprokie vir grootmense wat vanjaar met die WA Hofmeyr- sowel as die kykNET-Rapportprys bekroon is.

“Ek wil graag my vrou, Esmarie, en my dogter, Ena, bedank dat hulle met my opgeskeep gesit het in die tydperk wat ek aan die produksie gewerk het. Ek sal dit wel so gou moontlik weer wil doen – dit was ʼn eer en ʼn voorreg,” het Opperman gesê.

Tinarie van Wyk Loots is aangewys as beste aktrise in die produksie Opdrifsel, teenoor Brendon Daniels, wat in die Atterbury-teater te sien was.

Opdrifsel is ʼn verhaal oor twee mense wat hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer moet vind. Dit is ʼn storie oor hartseer, verlies, maar veral hoop en herbou.

“Dit was ʼn voorreg om weer die heilige ruimte van teater met almal te deel en ek het weer die krag van teater besef. Ek het saam met ʼn gehoorlid gehuil omdat ons so bly was dat ons weer in ʼn teater kan wees,” het sy gesê.

Van Wyk Loots is ook tans in die rol van Katja Adendorff te sien in Nêrens, Noord-Kaap en verskyn van Desember af in die nuwe Showmax Original-reeks, Troukoors.

Vanjaar se Aardklop-opwipfees het by die Voortrekkermonument afgeskop. (Foto: Aardklop Nasionale Kunstefees/Facebook)

Die gesprek, ʼn Baie lang Whatsapp aan die Voortrekkermonument, wat ook een van die venues van die fees was, het die nuwe Toomloos 2021-prys ontvang. Erns Grundling, skrywer, joernalis en aanbieder van Elders, was die projekbestuurder, terwyl Kabous Meiring as die gespreksleier opgetree het.

David Brink van Stage Alive Production House is vereer met die nuwe toekenning vir ratsste opwipper, ʼn toekenning wat geskep is ter ere van die rolspeler wat die beste aangepas het by die uitdagende omstandighede gepaardgaande met vanjaar se fees.

Dineke van der Walt, kurator van die visuele kunste van die fees, het die prys vir mees grensverskuiwende werk ontvang.

Ek wens, ek wens is ook as beste produksie van Aardklop 2021 aangewys.

Strachan het ook die feesdatums vir volgende jaar bekend gemaak. “Van 30 September tot 9 Oktober sal die fees weer in sy volle glorie voortgaan. Ons weet nog nie wat ons gaan doen nie, maar ons weet wanneer ons dit gaan doen,” het sy afgesluit.

Gretchen Crots het weer die beeldjies vir die toekenningsgeleentheid gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.