Aardklop-tienerproduksies eersdaags op die planke

“Ná 18 maande sonder enige konserte by die skool skreeu ek nou: We are back, baby!

Só het Mariki de Villiers Knop, kultuurkoördineerder van Hoërskool Noordheuwel, verlede week van die verhoog af gesê. Dié skool is vanjaar een van die gasheerskole van Aardklop Pronk Podium.

Aardklop Pronk Podium se halfeindronde en eindronde vind van 24 tot 27 Augustus by die AfriForum-teater in Pretoria plaas.

“Die wêreld staan stil, maar nie dié jong teatermakers nie,” sê David Brink, projekbestuurder.

By die onderskeie streeksfeeste wat die afgelope paar weke plaasgevind het by Helpmekaar Kollege, Hoërskool Noordheuwel, Eldo-toneelfees en NWU-kampustoneel het 402 tieners, 80 laerskoolleerders en 30 studente aan 91 produksies deelgeneem.

Die streeksbeoordelaars David Brink, Kaz Mcfadden, Mila Guy, Johny Klein en Alexa Strachan het Gauteng en omliggende streke platgereis om skole te besoek wat weens die inperkings nie by die onderskeie streeksfeeste kon deelneem nie.

“Julle as leerders en jong teatermakers wys vir ons as professionele akteurs, vervaardigers en skrywers dat daar hoop is. Julle gee ons ook sommer ʼn ligte skop onder die stert, dankie daarvoor,” het Strachan by Helpmekaar Kollege gesê.

Mcfadden het bygevoeg: “Geen enkele deelnemer het vanjaar gesmag na sertifikate of punte nie. Elke enkele persoon wóú bloot speel.”

Jaco van der Walt, senior bestuurder van NWU Kunste, noem ook dat die NWU Kunste graag platforms ondersteun waar studente die geleentheid kry om hul talente verder te ontwikkel. “In hierdie moeilike tyd is Aardklop Pronk Podium presies die regte platform vir jong talent.

“Tans is daar doodse stilte op elke verhoog in die land, maar ons almal het stories om te vertel. Koop ʼn kaartjie en kom kyk! Die jong klomp gaan jou verras!”

Aardklop Pronk Podium-semifinaliste:

Pronk Podium-tienerproduksies

Hoërskool Waterkloof met die produksie Molshoop

Hoërskool Zwartkop met die produksie Beset

Helpmekaar Kollege met die produksie Detensie

Hoërskool Eldoraigne met die produksie Dubbel(s)innig

Helpmekaar Kollege met die produksie Vlieërs

Hoërskool Noordheuwel met die produksie Vier vingers

Pronk Pret

Bryanston Parallel Medium met die produksie Ontsnap

Laerskool Wierdapark met die produksie Hoofpyn

Bryanston Parallel Medium met die produksie Boer soek ʼn vrou

Laerskool Swartkop met die produksie Pippie Langkous

Pronk Digitaal

Diandra Slabbert met die produksie HUMERUS

Hoërskool Noordheuwel met die produksie HEG

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met die produksie Clarice-Marie

Hoërskool Zwartkop met die produksie Miss Delivery

Hoërskool Die Wilgers met die produksie SPUIT kom altyd te laat

HTS Witbank met die produksie Avontuurdier

Kaartjies is teen R70 per persoon beskikbaar op AfriForum-teater se webwerf www.afriforumteater.co.za.

Hierdie projek word met trots ondersteun en moontlik gemaak deur NATi, NWU Kunste en Aardklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.