Die benoemdes vir die Aardklop-toekennings, die toekennings vir die beste akteurs en skrywers by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees, is Vrydag bekend gemaak.
Meer as 350 vertonings was vanjaar by sowat 18 verskillende lokale op Potchefstroom te sien.
Feesgangers, wat onder meer stroom vanaf Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap en die Vrystaat, het vinnig gespring vir produksies soos DEURnis, Pa maak vir my ʼn vlieër, Pa, Geheime taal, Volksbesit, Strooijonker en Weerklank van ʼn wanklank.
Dr. Mareli Stolp, sameroeper van die Aardklop-paneel, sê dié paneel het behoorlik gegons oor die uitnemende spel van die gesoute akteurs, en veral die “vars en dapper stemme van ontluikende Afrikaanse teksskrywers en teatermakers”.
Buiten Stolp, bestaan die Aardklop-paneel verder uit Diane de Beer, AJ Opperman, Lebona Sello, Suzaan Keyter, Alby Michaels, Felicia Lesch en Angelo Mockie.
Aardklop word nog tot 8 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.
Die wenners van die Aardklop-toekennings sal op 6 Oktober (Vrydag) by ʼn toekenningsfunksie op Potchefstroom bekend gemaak word.
Hier is die benoemdes:
Beste aktrise
- Antoinette Kellerman (Asem)
- Illse Roos (Melk & Vleis)
- Milan Murray (Weerkaats)
Beste akteur
- Dewald van der Merwe (Rou)
- Paul du Toit (Melk & Vleis)
- Gideon Lombard (Reuk van Appels)
Beste regisseur
- Marthinus Basson (Asem)
- Marthinus Basson (Melk & Vleis)
- Lara Bye (Reuk van Appels)
Aardklop Beste algehele aanbieding
- DEURnis
- Asem
- Melk & Vleis
ATKV – Aardklop-toekenning vir grensverskuiwende werk (slegs debuut)
- Marina Albertyn (Teks: Melk & Vleis)
- Centre for the Less Good Idea (Visuele kuns)