Aardklop: Verbreed jou horisonne met Taxiteater

Aardklop (Foto: Facebook)

Potchefstroom en omliggende buurte soos Ikageng en Promosa word vanjaar tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees wéér betrek deur middel van dié fees se taxiteater-projek.

Taxiteater bied feesgangers die geleentheid om op ʼn bussie te klim en die gemeenskappe rondom Potchefstroom te verken – die “kief uithangplekke”, die lekker eetgoed en die mense wat die hart van dié gemeenskappe vorm.

Dié projek, wat verlede jaar een van die fees se grootste suksesse was, het ten doel om een boodskap oor te dra: Potchefstroom is groter as nét Die Bult.

Taxiteater word vanjaar uitgebrei. Talle bekende kunstenaars het vanjaar, voor die fees begin het, die strate ingevaar op soek na nuwe talent – wanneer die feesganger dus in die taxi spring, kry hy nie net die plaaslike ervaring nie, maar ook die jong talent.

Taxiteater wil verder ook aan plaaslike taxi-operateurs, ondernemings en informele verkopers die geleentheid bied om deel te neem en voordeel te trek uit die feesaktiwiteite. ʼn Verhoog word ook by die verskeie gemeenskappe geskep vir plaaslike talent wat op dié manier ook blootstelling kry.

“Taxiteater is ʼn lucky packet van kuns, musiek, sang en dans word opgedis deur plaaslike talent uit die Aardklop-ontwikkelingsprogram, terwyl feesgangers kan weglê aan tradisionele lekkernye en drinkgoed vanuit die gemeenskappe,” sê Alexa Strachan, die feesbestuurder.

Die vervoer word verskaf deur plaaslike taxibestuurders. Feesgangers word by die pendelstasie op die hoek van Esselenstraat opgelaai en rits dan van kuierplek tot kuierplek. Kaartjies kos R120. Taxiteater word van 3 tot 7 Oktober aangebied om 12:00 en weer om 15:00. Die produksie duur 120 – 150 minute. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gwen ·

Seker mev. Le Hanie se breinkind hierdie. Wat het so ’n uitstappie enigsins met Afrikaanse kuns en kultuur, wat nog ge sê Afrikanerkuns en -kultuur te make?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.