Aardklop-verhoog wink weer vir Roeline

Die gesoute aktrise Roeline Daneel, wat vroeër vanjaar benoem is vir ʼn Safta-toekenning vir beste vrouebyspeler vir haar rol in die fliek Krotoa, maak eersdaags weer ʼn draai op die verhoog wanneer die Ludwig Binge-stuk My mense is die kluts kwyt op die Aardklop Nasionale Kunstefees debuteer.

Die stuk is gegrond op die sketskomedietradisie van Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang en kyk met ʼn satiriese oog na Afrikaners in hul gemaksone en lewer kommentaar op geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik.

Daneel, wat tans as die bulhond-prokureur Klara in die kykNET-dramareeks Fynskrif te sien is, vertolk saam met De Klerk Oelofse van Hotel– en Sara se geheim-faam, en Binge die hoofrolle in dié stuk. Wessel Pretorius is die regisseur.

“Op ʼn persoonlike vlak is dit heerlik om net weer saam met hierdie mense te werk,” vertel Daneel oor haar kollegas, wat almal destyds saam met haar en ander bekendes in die bedryf soos Cintaine Schutte, Hannah Borthwick en Christiaan Olwagen deel gevorm het van die Polony-teaterkollektief.

“Ons het in ons beginjare verskriklik nou saamgewerk en ons het ons vaardighede saam ontwikkel in ʼn veilige spasie waar ons kon eksperimenteer en het uiteindelik verskillende rigtings ingeslaan. Dit voel of ons ʼn familie is wat weer byeengekom het vir ʼn reünie.”

Die stuk is die tweede uit Binge se pen – die eerste was Kleedkamer-blues wat gedebuteer het op vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.

“Dit is ook fantasties om vir Ludwig te kan steun met die stuk en ek is mal oor die teks. Ek het werklik hardop gelag toe ek dit gelees het! Dit bevat ons tipe sin vir humor – bietjie donker en bietjie af – en is glad nie klugtige humor nie. Die humor is toeganklik. Toe Ludwig die stuk geskryf het, het hy aanvanklik nie bedoel om sosiale kommentaar daardeur te lewe nie – ons is net ook almal Afrikaanssprekend. Ons het later agtergekom die storie word tematies deur ʼn goue draad van die Afrikaner en sy oddities saamgeflans.”

ʼn Lewensmoeë, deeltydse geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga (Daneel) haar manskollegas touwys maak. ʼn Blou Bul-braai in Pretoria neem ʼn onverwagse wending terwyl Louise en Peter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr.

“Daar is drie sketse wat gaan oor rugby,” lag Daneel. “Ek kyk nie rugby nie en ek vertolk die rol van iemand wat baie daarvan weet. Ludwig en De Klerk kyk gelukkig rugby en kan vir my verduidelik, maar dit is vir my ʼn groot uitdaging om te lyk asof ek weet waarvan ek praat. Vir rugby-aanhangers sal die sketse baie herkenbaar en skreeusnaaks wees.”

My mense is die kluts kwyt debuteer op vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom en is van 2 tot 6 Oktober te sien in die ATKV C6 POK-lokaal. Kaartjies kos R110 en is beskikbaar by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.