Amper, Vrystaat: ʼn Verhaal van maskers

Foto: Facebook

Cintaine Schutte, Milan Murray en Antoinette Louw. Foto: Facebook

Die produksie Amper, Vrystaat, wat verskeie benoemings en toekennings ontvang het, is vanjaar ook by Aardklop te sien. Maroela Media het met die vervaardiger en aktrise, Antoinette Louw, gesels om te hoor waarom dié produksie so suksesvol is.

“Ek noem dit ʼn komedie met hart. Die produksie spreek absoluut tot almal – dis rou, eerlik en menslik. Dit handel oor familie en hul verhouding met mekaar.”

Die produksie handel oor drie susters wat nie vreeslik na aan mekaar is nie, maar mekaar tydens Kersfees sien en dan weer by hul ma se begrafnis. Die maskers waai met die eerste ontmoeting en die resultaat is gelyktydig skreeusnaaks en hartverskeurend. Die rolle word vertolk deur Antoinette Louw, Milan Murray en Cintaine Schutte, met regie deur Nico Scheepers.

Antoinette meen feesgangers sal kan identifiseer met hierdie produksie omdat die meeste mense ʼn soort masker dra, maar wanneer gesinne bymekaarkom, kom die maskers baie vinnig af. “Elkeen het ʼn rol wat hulle vertolk in die gesin, maar familie is nie bang om ʼn ding te sê soos dit is nie – hulle draai nie doekies om nie.”

Elke aktrise in dié produksie se karakter word geloofwaardig vertolk en saam is daar ʼn ongelooflike dinamiek tussen die drie. Antoinette sê die rede hiervoor is die vriendskap wat ontwikkel het.

“Dis so lekker as kollegas vriende word – ons kom goed oor die weg en ek dink dit help met die produksie. Ek dink ons kry die balans mooi reg – om professioneel te wees en wanneer ons van die verhoog afstap, is ons vriende.”

Sy vertel ook van die kreatiewe proses saam met regisseur, Nico Scheepers. Dié teaterkenner het ook al verskeie toekennings ingepalm vir sy werk.

“Nico is geniaal. Ons het so lekker saam met hom gewerk. Ons het hand-aan-hand saam die karakters ontwikkel. Hy het insae gegee, ons kon insae gee. Ons kon lekker speel, ontdek en dit was ʼn kreatiewe fees.”

Antoinette meen feesgangers sal die produksie geniet want dit spreek tot almal. “Jy gaan ʼn bietjie anders na die wêreld kyk wanneer jy by dié produksie uitstap…”

Amper, Vrystaat is Saterdag 8 Oktober by Aardklop te sien teen R120:00. Besoek Computicket vir kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.