ATKV-Tienertoneel maak Top-20 bekend

(Foto: ATKVSA)

Kreatiwiteit het in die afsonderingstyd gedy en inskrywings vir die “nuwe” ATKV-Tienertoneel het behoorlik ingestroom. Soveel só dat die aanlyn stelsel by tye effe wankelrig was. Daar is boonop meer inskrywings as die vorige jaar ontvang.

“Die kreatiewe invalshoeke van al 223 inskrywings burger moed in vir elke Suid-Afrikaner en gee oneindigende hoop vir die toneelbedryf,” sê JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel.

Van Niekerk is oortuig dat die kompetisie nooit weer dieselfde gaan wees nie, omdat dié jaar se deelnemers nuwe energie aan die projek gegee het.

Aspirant akteurs is vanjaar meer as voorheen uitgedaag om hul liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë in te skryf. Dit moes by die voorgeskrewe temas inpas, wat huis, isolasie, ingeperk, staties en alleen insluit.

Die ATKV wou juis grense met sy toneelkompetisie verskuif deur nuut te skep in ’n tyd van inperking. Waar leerders vantevore hul staal op die verhoog sou wys, moes deelnemers vanjaar hul nuutskeppings voor ’n kamera laat lewe kry.

Amalia Uys. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sewe mentors, onder wie Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henriëtta Gryffenberg, was deel van die beoordelingsproses.

Volgens Uys, bekend vir haar fliekrolle in Vergeet my nie en Sy klink soos lente, is sy verstom oor die materiaal wat hulle gesien het.

“Ek lag en huil gelyk. Daar is soveel lewe in hierdie jongmense en hulle werk met gróót temas. Ek haal my hoed vir hulle af en ek eer hulle,” sê Uys.

Die skryf van nuwe tekste as vereiste het nuwe stemme na die voorgrond gebring wat nie geïgnoreer kan word nie, meen Van Niekerk.

“Dit gaan nou stories in die volksmond word wat vlerke kry,” sê hy.

Benewens die formaat van die kompetisie wat verander het, gaan deelnemers vanjaar ook op ’n mentorskapreis.

Elke leerder ontvang benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde ook persoonlike stemboodskappe met terugvoer van twee mentors.

Die 20 deelnemers wat meeding om ʼn plek in finaal is:

  • Alma van Heerden van die Kuswag Skool met Alleen.
    • Anja Pieterse van die Hoërskool Stellenbosch met Altyd Johan.
    • Christiaan Bell van die Hoërskool Stellenbosch met ’n Gebed.
    • Chrizelle Strydom van die Hoërskool Upington met Wegbreek.
    • Eckard van Heerden van Grey Kollege Sekondêr Bloemfontein met Die bloed in my oë.
    • Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck met Skeletons.
    • Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch met Val.
    • June Kruger van die Hoërskool Parel Vallei met Wentelkind.
    • Jurie Boshoff van die Hoërskool Hugenote met Kollig.
    • Betsy Wilke van die Hoërskool Jan van Riebeeck met Amoeba.
    • Khali Young van die Hoërskool Sasolburg met Alleen.
    • Kristen Fichardt van Hoër Meisieskool Oranje met Brandwonde bloei nie.
    • Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville met My Matilda en die Chinees.
    • Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia met Ingeperk.
    • Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof met Bonuspunt/(Miss)ogyny.
    • Ninke Theron van die Hoërskool Stellenbosch met Mamma en ek.
    • Nita de Jager van die Hoër Meisieskool Bloemhof met Lockdown is ’n droom.
    • Tristen Bruyns van Grey Kollege Sekondêr Bloemfontein met Isolasie.
    • Tylo Ras van die Hoërskool Tygerberg met Vreesloos.
    • Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof met Ek is alleen.

Wil jy dalk die semi-finaliste ontmoet? Kyk hier na die aankondigingsvideo wat deur die ATKV vervaardig is:

Die top-tien word op 16 Oktober bekendgemaak. Hou gerus die ATKV se webwerf en platforms vir hul kykerskeuseveldtog dop. Finaliste se monoloë sal vooraf op al die organisasie se platforms beskikbaar gestel word sodat kykers vir hul gunsteling kan stem.

Die nasionale eindronde word 14 November regstreeks aanlyn aangebied op Zoom en sal deur 500 genooide gaste, die finaliste en mentors bygewoon word.

’n Digitale bundel met die top-presteerders se tekste, wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90-100%] toekenning ontvang het, sal ook tydens die geleentheid bekendgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae