ATKV-Tienertoneel ʼn fees van talent

Argieffoto (Foto: holgersfotografie, Pixabay)

Die ATKV-Tienertoneelfinaal is ’n fees van jeug, ’n fees van teater, ’n fees van talent en ’n fees van kreatiwiteit!

Ongeveer 3 500 hoërskoolleerders het deelgeneem aan die 195 produksies tydens 11 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste. Die streeksfeeste het plaasgevind in Johannesburg (UJ-teater), Ermelo (Hoërskool Ermelo-ouditorium), Bloemfontein (Wynand Mouton-teater), Roodepoort (Roodepoort-teater), Namibië (Nasionale Teater van Namibië), Port Elizabeth (PE Opera House), Durban (The Playhouse Drama Theatre), Pretoria (Unisa Little Theatre), Kaapstad (Kunstekaap-teater), Potchefstroom (Sanlam-ouditorium) en Durbanville (Hoërskool Durbanville-ouditorium). Die beoordelaars tydens die streeksfeeste was Cintaine Schutte, prof. Marié-Heleen Coetzee, Nico Scheepers, Tertius Kapp, Vianney Farmer en Wilhelm van der Walt. Jong voornemende teatermakers het die verhoë warm gespeel, gehore vermaak, ontroer en bekoor en uiteindelik is die beste produksies na die finaal genooi.

Die ATKV-Tienertoneelfeeste poog om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat hulle hul eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel. Met ATKV-Tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om die leerders soveel geleenthede as moontlik te gee om by al die aspekte van die projek betrokke te raak. Met ander woorde by toneelspeel, skryf van tekste, regie, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie, ensovoorts.

Die wengroep ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019. Die naaswenner ontvang R20 000. Die toneelgroep wat in die derde plek aangewys word, ontvang R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang R10 000 prysgeld.

Die ATKV het vanjaar ʼn afdeling beskikbaar gestel vir produksies waarvan die hele geselskap [die regisseur(s), skrywer(s), spelers en tegniese personeel] almal hoërskoolleerders is, om ’n skeppende gees onder die leerders aan te moedig. ’n Volwassene kan steeds as mentor optree deur basiese leiding en spelleiding binne perke te verskaf. Altesaam 23 toneelstukke het in dié splinternuwe afdeling deelgeneem en vier van hulle sal Maandag 1 Oktober tydens die finaal meeding om as die eerste wenproduksie van dié afdeling aangewys te word.

Kaartjies is beskikbaar by www.webticket.co.za, die Roodepoort-teater of enige Pick n Pay met Webticket-fasiliteite. Bespreek nou jou kaartjie – sitplekke is beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.