Atterbury-teater pronk met splinternuwe Steinway-vleuel

Deur Christa Steyn

Charl du Plessis verduidelik hulle het slegs twee uur tot hul beskikking gehad om ʼn klavier in die bepaalde kategorie te kies. (Foto: Charl du Plessis via Facebook)

Die Atterbury Teater in die ooste van Pretoria is ʼn integrale deel van die Jakarandastad se kunstebedryf. En nou kan dié gewilde teater spog met sy eerste Steinway & Sons-konsertvleuelklavier.

Dié vleuelklavier is vandeesweek voor ʼn stampvol gehoor by die teater onthul. Bekendes soos Coenie de Villiers en Amanda Strydom het ook die inhuldiging bygewoon.

Die klavier is vroeër vanjaar deur die bekende pianiste, Charl du Plessis en Matthys Maree, in Hamburg, Duitsland, uitgesoek. Du Plessis vertel hulle het slegs twee uur tot hul beskikking gehad om ʼn klavier in die bepaalde kategorie te kies. “Dis ʼn bietjie soos Survivor: jy het drie klaviere waarop jy speel en dan skakel jy die een waarvan jy die minste hou uit. Daar bly dan twee oor waarvan jy gewoonlik al twee hou, maar een staan net vir jou uit,” verduidelik hy.

Matthys Maree het gehelp om die nuwe klavier by die Steinway & Sons-fabriek in Duitsland te kies. (Foto: Charl du Plessis via Facebook)

“Dit help om te weet met watter doel en vir watter teater jy iets kies. En dis presies wat ons gedoen het,” vertel Du Plessis.

Hy verduidelik dat sy keuse beïnvloed is deur die verskeidenheid produksies en musiekuitvoerings wat jaarliks deur die Atterbury aangebied word en dat ʼn groter klavier te veel ruimte op die verhoog in beslag sou neem.

Tydens die bekendstelling van die pragtige swart vleuel is verskeie klassieke en kontemporêre musiekstukke gespeel. Du Plessis was verantwoordelik vir die organisering van die inhuldigingskonsert, asook vir die verwerkings van musiekstukke wat gespeel is.

Hoewel sommige stukke deel vorm van Du Plessis se repertoire vir die “40 Vingers”-uitvoering wat in 2017 by De Oude Libertas se 40-jaar-herdenking aangebied is, is daar ʼn aantal musiekstukke spesiaal vir die inhuldiging verwerk. Du Plessis se medepianiste was Albie van Schalkwyk, Elna van der Merwe en Pieter Grobler (wat ook deel van die “40 Vingers”-produksie was), tesame met Maree en Louis Nel, die 2017-wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.

Die bekende pianiste, Charl du Plessis en Matthys Maree, het die Atterbury Teater se eerste Steinway & Sons-konsertvleuelklavier in Hamburg, Duitsland, uitgesoek. (Foto: Charl du Plessis via Facebook)

Gehoorlede is betower met klassieke en sensasionele uitvoerings wat gewissel het van Chopin tot Rachmaninoff, musiek uit die opera Carmen en selfs ʼn paar kontemporêre stukke soos Piano Man en Fly Me to the Moon.

ʼn Paar humoristiese oomblikke, soos pianiste wat “musical chairs” speel of selfies neem terwyl ʼn stuk gespeel word, het bygedra tot die ligte stemming waarmee dié nuwe klavier verwelkom is.

Sedert sy opening in 2011 het die Atterbury Teater ongeveer 2 500 vertonings en geleenthede aangebied wat teaterproduksies, solo-uitvoerings, koorsang en groter musiekkonserte insluit. En nou lê vele spoggerige konserte op ʼn egte Steinway-vleuel ook voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JK ·

OOooo fantasties!! Kan nie wag vir die eerste vertoning met dié nie!

Abe ·

Pragtige ding. My hande juk om n paar note te druk. Wat n voorreg om nog een in SA te he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.