Ballet praat met mense oor grense heen

Crown of the Russian Ballet (Foto: Verskaf)

Ballet is ʼn eeueoue kunsvorm en sekere opvoerings wat vandag aangebied word, hou by dieselfde choreografie as dié van die 1800’s.

Dié kunsvorm verg van dansers heelwat dissipline en jarelange toewyding.

Van 21 tot 31 Julie kry Suid-Afrikaanse gehore die geleentheid om Russiese dansers in die aanbieding Crown of the Russian Ballet te sien. Dié extravaganza van twee uur word aangebied deur die bekroonde internasionale Royal Moscow Ballet.

Taryn Cohn, Suid-Afrikaanse woordvoerder van Crown of the Russian Ballet, sê die lewe van ʼn ballerina is nie altyd maklik nie, maar altyd die moeite werd.

“Dit is ʼn veeleisende beroep en balletdansers moet baie jonk begin. Die meeste professionele dansers begin al voor die ouderdom van tien streng oefen. ʼn Professionele danser en ballerina se dae word gekenmerk deur ure se dansoefening,” sê sy.

Cohn sê wanneer dansers besig is om vir uitvoerings voor te berei, gaan hulle direk van die dansoefening na repetisies. “ʼn Tipiese dag sal bestaan uit vyf tot ses uur se oefening en repetisies. ʼn Ballerina moet baie sterk en stabiel wees en daarom is oefening so belangrik in hul lewens. Mansdansers moet ook veral sterk wees om die krag te hê om hul dansmaat op te lig,” sê sy.

Volgens haar is, behalwe vir die rug-, knie- en enkelbeserings wat dikwels in ballet opgedoen word, rofies eintlik die mees algemene besering onder ballerinas.

Crown of the Russian Ballet (Foto: Verskaf)

“Partykeer bloei jou voete deur jou skoene, maar dit is die prys wat jy betaal om deel te wees van ʼn opwindende ballet wat al vir honderde jare opgevoer word.”

Wanneer dit by teatergangers kom, meen Cohn dat die gewone etiket geld wanneer jy ballet toe gaan.

“Soos in alle vertonings word die gebruik van flitsfotografie nie toegelaat nie. Dit is veral belangrik in ballet omdat die gebruik van kameraflitse die dansers se aandag kan aflei en dit kan ook gevaarlik wees vir hulle. Om hardop te praat in die teater is ook iets wat teatergangers moet vermy omdat dit ander gehoorlede wat verdiep is in die aanbieding kan steur,” sê sy.

“Ek glo ballet is spesiaal omdat dit mense oor landsgrense, maar ook oor eeue heen, met mekaar verbind. Baie van die danspassies word herinterpreteer op verhoë reg oor die wêreld en het al deur die hande van talle dansers en choreograwe gegaan, en elkeen bring veranderinge aan tot sy en haar eie unieke persoonlikheid,” sê Cohn.

Crown of the Russian Ballet is van 21 Julie by Emperors Palace in Johannesburg te sien. Daar is ook aanbiedings in Pretoria, Port Elizabeth, Botswana, Durban en Bloemfontein. Vir meer inligting en besprekings klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.