Balletsterre bring skitter en glans na die Roodepoort-teater

Foto: Facebook

Foto: Facebook

ʼn Indrukwekkende versameling van Suid-Afrika se beste balletsterre gaan by die Roodepoort-teater optree op 10 en 11 Julie 2015 wanneer die Joburg Balletgeselskap hul ballethoogtepunte gala na dié teater toe bring vir drie optredes.

Die geselskap word gelei deur prima ballerina Burnise Silvius wat die skitterende Don Quixote Pas de Deux sal uitvoer saam met Ramiro Samón van Kuba , wenner van die goue medalje in die SA Internasionale Balletkompetisie. Die rolle word ook gedurende hierdie seisoen gedeel deur die hoofdansers Shannon Glover en Michael Revie.

Ander klassieke ballet pas de deux sluit in The Flames of Paris met Shana Dewey en Ramiro Samón en Satanella met Dayana Acuna en Javier Monier, sowel as Diana and Acteon met Dayana Acuna en Ramiro Samón wat afwissel met Burnise Silvius en Ramiro Samón. Ander klassieke items sluit in die hoogtepunte van Swan Lake, La Sylphide en La Bayadère.

Die ballethoogtepunt gala het iets vir elkeen en sluit klassieke meesterstukke in wat afgewissel word met twee weelderige romantiese kort balletstukke deur kunsdirekteur Iain MacDonald. Die opvoering sluit ook ʼn balletstuk in wat gedans word op Strauss se Blue Danube Waltz, een van die bekendste musiekstukke in die wêreld.

Die program word afgesluit deur drie stukke met Suid-Afrikaanse musiek, choreografie of temas, naamlik Gauteng met musiek deur Miriam Makeba, Jantjie met musiek deur Anton Goosen en Fearless deur ʼn jong Suid-Afrikaanse choreograaf, John Tsunke.

Die gala duur ‘n uur en word opgevoer sonder onderbrekings, met ʼn aantreklike kaartjieprys en toeganklike teater. Dit is die ideale uitstappie vir die gesin.

Opvoerings: Vrydag 10 Julie 20:00 en Saterdag 11 Julie 15:00 en 20:00

Waar: Roodepoort Staatsteater

Kaartjies: R140, R170

Besprekings:  www.roodepoorttheatre.com of bel  0861 670 670

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.