Bekende se seun is Fiela se nuwe kind

Eloff Snyman as Benjamin (003)

Eloff Snyman. (Foto: Verskaf)

Die suksesvolle teaterproduksie Fiela se kind, met Shaleen Surtie-Richards in die hoofrol as Fiela, maak eersdaags weer ʼn draai op die planke met ʼn splinternuwe Benjamin Komoetie, nadat dié toneelstuk in 2017 ʼn suksesvolle jaar van uitverkoopte teatervertonings beleef het.

Vian Singleton, wat die rol van klein Benjamin Komoetie in 2017 vertolk het, is vervang deur Eloff Snyman, ʼn gr. 7-leerder van Laerskool Durbanville in Kaapstad.

Dié jong akteur, wat reeds van vroeë ouderdom in advertensies speel, het verlede jaar sy rolprentdebuut gemaak in die fliek, Liewe Kersfeesvader. Sy pa is die bekende Christo Snyman van BROERS-faam.

“Vian het klein Benjamin briljant vertolk, maar soos dit met 12-jarige seuntjies gaan, rek hulle oornag!” het Frans Swart, regisseur en vervaardiger vir Lefra Produksies, luidens ʼn verklaring gesê.

“Toe ons in Januarie met repetisies vir Fiela begin het, het ek onmiddellik besef dat Vian te groot en lank geword het. ʼn Mens moet onthou dat Benjamin, wat sy ma se oogappel was, klein en baie kwesbaar moet wees. So, om geloofwaardigheid aan Dalene Matthee se teks te gee, moes ons die moeilike besluit neem om Vian as Benjamin te vervang.”

Swart het gesê hulle het meer as 100 seuns vir oudisies gesien en uiteindelik besluit om die rol van Benjamin aan Eloff toe te ken.

Fiela Badtoneel (003)

Eloff Snyman en Zenobia Kloppers. (Foto: Verskaf)

Volgens Swart sal die produksie vanjaar weer landwyd toer. “Ná die groot sukses wat Fiela verlede jaar behaal het, het ons besluit om voort te gaan met hierdie produksie in 2018. Dit was nog altyd Lefra se leuse dat ons teater na die mense toe bring. Daar was seker nie een speelvak waar kaartjies nie uitverkoop was en ons ekstra vertonings moes skeduleer nie. Dis lekker, want as teater so goed vaar, is daar nog ʼn kans vir teater in Suid-Afrika.”

Die produksie is eersdaags by Carnival City in Brakpan te sien. Zenobia Kloppers, bekende Kaapse aktrise en sangeres, sal vir Surtie-Richards instaan vir die rol van Fiela vir die Carnival City-speelvak. Luidens die verklaring is Surtie-Richards tans onder hewige werkdruk om die televisiereeks, Broken Vows, te voltooi. Surtie-Richards sal egter in Maart terug wees as Fiela vir onder meer die Suidoosterfees en ander optredes.

Paul Lückhoff wat tans baie gewild is in Binnelanders as Oom Wimpie, speel Elias, die houtkapper. Sy vrou, Barta, word gespeel deur Edrien Erasmus. Phillru van Achterbergh speel die groot Benjamin en Marissa Claasen vertolk die rol van groot Nina. Klein Nina word vertolk deur Jaimie du Toit. Johny Klein speel Selling, Fiela se man.

Bespreek nou vir Fiela se kind by Carnival City se Mardi Gras van 7 tot 18 Februarie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Pragtig Eloff. Jy aard seker na jou moeder. Sy was n leerder in Landboudal en ek dink sy was hoofmeisie ook. Ek was haar registeronderwyser en haar klas het omtrent elke klaskompetisie gewen. Eloff is net so mooi soos sy ma. Sy was n uitstaande Landboudaller. Sterkte vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.