Besondere landskap in woord, beeld en klank

Landskap (Grafika verskaf)

Deur Alita Steenkamp

Poësie kom eers tot reg wanneer dit nie bloot net woorde op papier bly nie. Anna Davel, die sangeres met die smeulende stem wat bekend is vir haar wonderlike lirieke, het met die idee gespeel om ʼn paar kunstenaarvriende bymekaar te kry en ʼn produksie bymekaar te sit waarin Suid-Afrika se mense en sy landskap aan die hand van getoonsette gedigte geskilder kan word.

Anna het Laurinda Hofmeyr, wat bekend is vir haar wonderlike toonsettings van verskeie Afrikaanse digters en Lizanne Barnard wat weer baie van Eugène Marais se gedigte getoonset het, gevra om saam met haar aan die produksie, Landskap te werk. Die drie het aan die werk gespring en ʼn paar gedigte getoonset en die visuele kunstenaar Rudi Silbermann is genader om ʼn visuele film vir elkeen van die gedigte te maak in hierdie produksie, Landskap, wat vanjaar by die Woordfees gedebuteer het. Gehore is betower deur dié produksie wat met ʼn WoordTrofee vir die ‘Beste Woordkunsproduksie’ op 2017 se Woordfees bekroon is.

Anna Davel in “Landskap” (Foto verskaf)

Intussen het Anna ook vir Leon Gropp gevra om by haar, Lizanne en Laurinda aan te sluit. Leon het op sy beurt weer ʼn paar wonderlike toonsettings van NP van Wyk Louw se poësie gedoen, en dit was vir Anna belangrik dat hy deel van hierdie produksie word. Leon was voorheen deel van die briljante kitaarduo CH2. Dit was gou duidelik dat Leon se toonsettings die produksie inderdaad verryk het. In Landskap kry die musikante dit uitstekend reg om die digters se woorde lieflik te omsoom met musiek. Schalk Joubert op baskitaar en Kevin Gibson op tromme en perkussie rond die musiek in hierdie produksie fyn af.

Anna verduidelik dat alhoewel poësie jou dikwels raak en roer wanneer jy dit vir die eerste keer hoor, kry dit dikwels eers nuwe betekenis, energie en atmosfeer wanneer daar musiek bygevoeg word.

“Dis nog ʼn manier om die storie te vertel en daarmee saam skep dit die tipe musiek wat ʼn mens oor en oor kan luister,” vertel sy. “Dikwels het gedigte se woorde meer om die lyf en is daar baie lae wat ontgin kan word. Die musiek slaag daarin om aan die woorde ʼn nuwe konteks en lewe te gee en dit help ook om van die ouer digters se gedigte toeganklik te maak vir ʼn jonger gehoor. Die musikale ritmes en akkoorde gee op hierdie wyse nuwe vlerke aan van die mees bekende tekste uit ons land se poësie-skatkis. Tog bly die gehoor keer op keer verras want dit is asof hulle die woorde vir die heel eerste keer hoor.”

Laurinda Hofmeyr in “Landskap” (Foto verskaf)

Beide Anna Davel en Laurinda is Afrikaanse ambassadeurs wat deel is van Afrikaans.com se ambassadeursprojek. Hierdie Afrikaanse ambassadeurs is mense met ʼn passie vir die taal wat op eie gebied ʼn wesenlike bydrae tot Afrikaans lewer en wat op grondvlak eienaarskap neem van Afrikaans.

Lees meer oor Anna en Laurinda en ander Afrikaanse ambassadeurs.

By vanjaar se Aardklop Kunstefees vind daar vier vertonings van Landskap plaas.
Plek: kykNET Konservatorium
Datums en tyd: 3 Okt 17:30 | 4 Okt 15:00 | 6 Okt 09:30 | 7 Okt 12:30
Prys: R130
Tydsduur: 75 min
Ouderdomsbeperking: Gesin

WEN:

Een Maroela-leser kan ʼn gratis dubbelkaartjie na ʼn vertoning van Landskap by Aardklop op 6 Oktober wen. Laat weet ons in die kommentaar waarom jy graag dié vertoning wil bywoon en wie jy graag saam met jou na die vertoning wil neem. Die wenner sal per e-pos in kennis gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.