Bettie gʼn skaam om KKNK-‘instaan aktrise’ te wees

Kemp speel teenoor Dawid Minnaar in ‘Mirakel’. (Foto: Facebook/Bettie Kemp)

Twaalf dae voor die openingsaand van een van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskipproduksies, Mirakel, kry die radio- en TV-aanbieder, Bettie Kemp, ʼn oproep van Hugo Theart, dié fees se artistieke direkteur en uitvoerende hoof, terwyl sy haar inkopies doen.

“Daar’s net een rede waarom iemand soos Hugo my só naby aan die fees sal bel en dit is om te vra of ek vir iemand sal instaan. Ek het wel gedink dis vir ʼn paneelbespreking, nie om deel van een van die fees se grootste produksies te wees nie.”

Só is Kemp genader om Salomé in Reza de Wet se Mirakel teenoor onder andere Dawid Minnaar en Rolanda Marais te speel, ʼn rol wat aanvanklik deur Brümilda van Rensburg vertolk sou word.

Mirakel speel in 1938 af en vertel die verhaal van ʼn teatergeselskap onder leiding van die befaamde akteur Dante du Pré. Die groep bevind hulself in ’n klein dorpie in die hoop om ’n bietjie verligting met ’n opvoering te bring.

Die KKNK het bevestig dat Van Rensburg kort voor die fees haar hand gebreek het en nie meer dié veeleisende rol sou kon volstaan nie.

“Hugo sê toe: ‘Dís die saak. Sien jy kans? Kan jy speel?’.”

Kemp, wat tans besig is om ʼn 120-episode radio-vervolgverhaal bymekaar te sit én as aanbieder op die kykNET-program, Huppel in die stap, optree, het nog nooit vir ʼn uitdaging weggeskram nie, maar erken dat sy nie meer “verhoog fiks” was nie.

“Ek kan werk onder druk. My man het my ook bemoedig en gesê: ‘Gaan doen dit, al is dit net omdat hulle weet jy die job gedoen gaan kry’.”

Kemp, wat haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, was in 2011 laas in ʼn produksie van dié skaal te sien in die Dood van ’n verkoopsman. Hiervoor het sy die kykNET Fiësta-toekenning vir beste vroulike byspeler ingepalm.

Die groep tydens repetisies in Philadelphia. (Foto: Facebook/Bettie Kemp)

“Daar was nie nou eintlik tyd om te twyfel nie, en ek was boonop weer lus om deel van ʼn groot geselskap te wees. Ek wou ook nie die geleentheid misloop om saam met Mirakel se regisseur, Marthinus Basson, te werk nie.”

Theart het haar die 20ste Maart geskakel, die 26ste is sy Philadelphia toe vir vier dae se repetisie, die 31ste Oudshoorn toe, en die 1ste April was sy op die KKNK-verhoog tydens openingsaand te sien gewees.

Kemp was gelukkig reeds goed vertroud met De Wet se ander werk. Sy het onder leiding van André Stolz die rol van Gerty in Mis vertolk gedurende ʼn twee jaar lange produksietoer na Afrikaanse skole regoor die land.

Mis, Mirakel en ʼn derde werk, Drif, is destyds as ʼn trilogie onder die naam Trits uitgegee.

“Ek het self destyds toevallig ook ʼn deel van my arm gebreek tydens een van ons laaste vertonings, wat is die kanse! Dis omtrent ʼn ‘Mirakel’ op sy eie,” skerts sy.

Om as die “instaan aktrise” bekend te staan, is ook iets waarmee sy lankal vrede gemaak het.

Minnaar en Kemp op die KKNK-verhoog. (Foto: KKNK/Facebook)

“Ek was al meer keer in my lewe nie die eerste keuse nie, of dit nou radio, televisie of die verhoog is. Dan het ek net altyd seker gemaak dat ek myself so goed van my taak kwyt, dat mense vergeet wie die eerste keuse was. Soms moet mens eenvoudig jou trots in jou sak steek.”

Hoewel dit ʼn uitdagende maand was, is sy nie spyt oor haar keuse nie.

“Ons skaaf nog, ʼn mens is na ʼn week of twee eers goed ingespeel. Maar ek geniet dit geweldig en glo ons gaan net beter word.”

Sy deel ook die verhoog met van die “jonger gardes” soos sy hulle noem, naamlik Edwin van der Walt (Fynskrif), Carla Smith (Tydelik Terminaal) en Eben Genis (Die Byl).

“Hulle is baie ervare en talentvol, ek geniet hulle energie.”

Vir haar is die gehoor se reaksies ook die beste betaling.

“Hulle sit met oop oë en ʼn oop gemoed. Dit voel met tye asof hulle hul asems ophou. Daardie gevoel om te weet jy het mense ontvlugting en genot gebied, maak alles die moeite werd.”

Kemp sê sy hoop dat haar verhaal en deurlopende ywerigheid in haar langdurige loopbaan, jonges sal inspireer.

“Daarin hoop ek lê ʼn boodskap vir die jonges wat mismoedig raak as hulle nie aanvanklik iemand se eerste keuse is nie. Bly fiks, hou jouself sinvol besig, skep jou eie werk. Op ʼn dag staan jy dalk in die winkels en dan lui daai foon onverwags.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.