‘Briekaandraai 2’: Radiodrama terug met nuwe seisoen

‘n Paar van die akteurs van die nuwe seisoen van ‘Briekaandraai’. V.l.n.r. is Mari Molefe van Heerden, Luan Jacobs, Helena Hettema, Stefan Vermaak, Su-An Müller-Marais, Marius Vermaak (ateljeebestuuder) en Antowan Nöthling . Voor is Bettie Kemp. (Foto: Maroela Media)

Luisteraars van die Maroela Media-radiodrama Briekaandraai kan van vandag (Maandag) weer voor die draadloos gemaklik raak vir die jongste aflewering van dié opwindende verhaal.

Die gesoute radiodramavervaardiger en regisseur Bettie Kemp is weer aan die stuur van sake. Sy vertolk ook die rol van Elfra van Staden, adjunkredakteur van Windhond. Elfra is ʼn joernalis van formaat wat voorheen saam met Otto Marais (Anton Dekker), redakteur van Windhond, by ander groot koerante gewerk het, maar besluit het op ʼn rustiger bestaan op die platteland.

Gevestigde radiostemme soos Antowan Nöthling as Slaptjip Salamander, Ria Smit as tannie Dottie Duvenhage en Helena Hettema as Melissa Taljaard is saam met jonger talent soos dié van Luan Jacobs as Wessel Vorster, Izel Bezuidenhout as Corlia Lemmer en Stefan Vermaak as Wolfgang Jordaan in hierdie radiodrama te hoor.

In Briekaandraai 2 keer die selfvoldane entrepreneur Wolfgang Jordaan (Stefan Vermaak) terug en dié keer stuur hy ʼn projek van stapel om ʼn vermaaklikheidstad te bou wat hy Super City noem. Die projek is uiteraard vol kinkels en uitdagings en vir die eerste keer kan die mense van die rustige, fiktiewe plattelandse dorpie Porseleinberg dobbel …

Corlia (Izel Bezuidenhout) word wakker uit ʼn maandelange koma, maar het vir ʼn onverklaarbare rede nou ʼn ander, geniepsiger persoonlikheid. Melissa (Helena Hettema), wat die Briekaandraai-gastehuis bestuur, is erg geraak deur die uitwerking van die Covid-19-pandemie en sy moet nuwe planne beraam om te oorleef.

Die opname van ‘Briekaandraai 2’ het onlangs in die Maroela Media-ateljee plaasgevind. Voor is Izel Bezuidenhout, Bettie Kemp en Anton Dekker. Agter is Luan Jacobs, Ria Smit, Stefan Vermaak en Antowan Nothling. Heel links is Marius Vermaak (ateljeebestuurder). (Foto: Maroela Media)

Die gemeenskapsradiostasie Briekaandraai FM en die plaaslike koerant Windhond se kompetisie om die grootste markaandeel te kry verdiep. Wessel Vorster (Luan Jacobs), die jeugdige hoof van die stasie, het nuwe planne wat die gedugte en ervare Otto slapelose nagte gee.

Maar die onverwagse raak nou die reël: Waar Wolfgang aanvanklik die kwaadstoker was, begin ander mense sy voorbeeld volg. Iewers tussen die Porseleinbergers skuil ʼn venynige vyand wat by Wolfgang leer hoe om skelmstreke in ʼn kuns te omskep en die inwoners sê les op.

Uiteindelik maak die bekkige Phoebe haar opwagting. Dié is ʼn nuwe Briekaandraai-karakter en word vertolk deur die aktrise Mari Molefe van Heerden. Phoebe krap die dorp se gewilde nutsman, Slaptjip (Antowan Nothling), se romantiese lewe gruwelik deurmekaar.

Selfs Dottie Duvenhage (Ria Smit) se oë begin blink toe ʼn nuwe wewenaar sy winkel reg oorkant haar tuisnywerheid, Kolwyntjie, oopmaak. Sy moet ook groot besluite neem, want te midde van die Covid-19-uitdagings open ʼn tweede tuisnywerheid op die dorp wat haar klandisie en baksters afrokkel.

Waar alles dus vir ʼn tydperk bedrieglik rustig en bedaard was, val ou geraamtes nou uit die kas en dit bedreig die hele Porseleinberg se bestaan.

Leon van Nierop is weer die skrywer van die reeks.

Briekaandraai 2 begin Maandag 3 Mei op gemeenskapsradiostasies landswyd uitsaai. Dit begin ook op Maandag 17 Mei op Maroela Media uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.