Cintaine Schutte: Dapper, doenig en dankbaar

Cintaine Schutte in die eenvroustuk, ‘Die dinge van ʼn kind’. (Foto: Verskaf)

Cintaine Schutte (32) kan nie in ʼn boks geplaas word nie. Dié donkerkop is net so gemaklik voor die kameras as wat sy op ʼn rolprentstel, in die vervaardigerstoel of voor die kameras vir ʼn televisiereeks is.

Sy sê ook vinnig dat sy nie ʼn voorkeur het wanneer dit kom by teater, TV of film nie – elkeen kom met sy eie uitdagings, sy eie bevrediging en sy eie adrenalien. Maar as jy mooi luister, kan jy duidelik haar teaterhart hoor klop.

As die verhoogligte aangaan en die gordyn lig, is Schutte waar sy hoort.

“Teater is my eerste liefde en een van my grootste passies,” erken sy. “Soms beplan ek my jaar om kunstefeeste as ek gelukkig is om met ʼn teaterstuk te reis.” In September sal Schutte juis sommer met twee produksies by Aardklop in Potchefstroom op die planke wees.

Een hiervan is ʼn eenvroustuk, Die dinge van ʼn kind. Dié produksie is ʼn verwerking van Marita van der Vyver se gelyknamige roman en die storie vertel van Mart Vermaak, haar vriendskap met haar voorbarige kamermaat Dalena, en die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord teen die agtergrond van die grensoorlog.

Die teks vir die teaterstuk is deur Francois Toerien verwerk en Nicole Holm behartig die regie. Lize van Rooyen hanteer die verhoogbestuur en die span word afgerond met Schalk Joubert wat die klankbaan op die skouers neem. Arena Produksiehuis behartig die vervaardiging.

“Toe ek ja gesê het om hierdie stuk te doen, het ek onmiddellik gesê ek gaan ʼn sterk spelleier nodig hê, veral omdat daar so baie karakters is,” sê Schutte. “Om ʼn eenvrouvertoning te doen is ʼn baie alleenproses. Daar is niemand saam met jou in die aantrekkamer nie en niemand om agterna ʼn high-five te gee nie. En dit is maar ʼn klomp dialoog. Maar ek weet ek is in ongelooflik veilige hande met só ʼn sterk span en dit is maar waaraan jy vashou,” verduidelik sy.

Albert Pretorius is saam met Cintaine Schutte te sien in ‘Tien duisend ton’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Sy vertel sy is ook deeglik bewus van die luuksheid dat sy met Van der Vyver en Toerien oor die teks kan gesels en vrae oor die karakters vra. “Die storie is só goed geskryf en as jou teks goed is, is jy 50% daar. Jy moet net vertrou in die storie.”

Schutte vertel toe sy die boek Die dinge van ʼn kind gelees het, was sy aangegryp deur die identifiseerbare temas en karakters wat tussen die bladsye geskuil het. “Ek dink wat hierdie teaterstuk net nog meer opwindend maak, is dat dié storie steeds vandag relevant is,” verduidelik sy.

“Die grensoorlog was nie so lank terug nie. Dit is nog deeglik ingeëts in die geheue van Afrikaners, hoewel daar nie juis daaroor gepraat word nie. Ek kan so goed onthou toe ek grootgeword het, is daar nooit oor die grensoorlog gepraat nie en vandag nog het ek soveel mans in my lewe wat net stilbly daaroor. Dit is ‘die oorlog wat nooit gebeur het nie’, want niemand praat daaroor nie.

“Toe ek navorsing begin doen het ter voorbereiding van hierdie vertoning, was dit vir my interessant om te sien hoe skrikwekkend die grensoorlog eintlik was en hoe hartseer dit was, en dit is juis dít wat die hele temperatuur van hierdie storie bepaal – die familie waarin Mart grootword, die keuses wat sy maak, die geheime wat sy hou. Marita skets so mooi wat jy hier in jou binneste ervaar en dan sien jy dit deur die karakters se oë.”

Die dinge van ʼn kind word beskryf as ʼn produksie “vir elke ma, elke dogter, en die mans in hulle lewe”. Maar vir Schutte is dié verhaal vir almal, ʼn storie waarby enigiemand ʼn raakpunt sal kan vind. “Ek dink as storievertellers is dit ons verantwoordelikheid om elke stuk wat ons aanpak relevant te maak vir almal en ʼn manier te vind waarop die storie in enigeen se hart kan inkruip. Dit is tog hoekom ons doen wat ons doen. Om stories te vertel.”

Cintaine Schutte en Albert Pretorius in ‘Tien duisend ton’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Die gewig van ʼn kind

Nog so ʼn storie wat Schutte meen uiters relevant vir die tyd is, lê opgesluit in die produksie Tien duisend ton. In dié tragikomedie speel Schutte teenoor Albert Pretorius en vertel hulle die storie van ʼn man en vrou wat oorweeg om ʼn baba te kry, maar worstel oor die uitwerking wat dit sal hê – nie net op hul eie lewe nie, maar ook op die wêreld as geheel.

Tien duisend ton is deur Carel Nel in opdrag van die US Woordfees vervaardig, met teks deur Duncan MacMillan (oorspronklik Lungs) en stelontwerp en regie deur Nico Scheepers.

Scheepers sê hy wou nie die titel bloot vertaal na “Longe” wanneer die stuk in Afrikaans aangebied word nie. “Tien duisend ton is presies die sentrale kwessie van die hele stuk. Die kwessie of hulle ʼn kind moet kry of nie is ʼn totale nugter ondersoek na die koolstofvoetspoor van ʼn kind. En sy sê op ʼn baie snaakse oomblik in die stuk dat ’n kind se koolstofvoetspoor die ekwivalent is van tien duisend ton CO² en dat dit die gewig is van die Eiffel-toring en dat sy dus gaan geboorte gee aan die Eiffel-toring,” vertel hy.

“En toe vat ek dit as die titel van die stuk, want dit is treffend, dit is die sentrale kwessie, dit sê lekker en mense gaan dit onthou.”

Dié teaterstuk het geen stelontwerp nie, geen rekwisiete nie en geen beligtingveranderinge nie. Die produksie maak ten volle staat op die spel en die storielyn. “So, toe besluit Nico om dit teater in die rondte te maak, sodat jou gehoor reg rondom die speelvlak sit,” sê Schutte.

Net sy, Albert en die oë reg rondom hulle. Maar ook dié uitdaging skrik Schutte nie af nie.

Cintaine Schutte sal by die Aardklop Kunstefees te sien wees in ‘Tien duisend ton’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Daar is so baie wat hierdie produksie so ongelooflik maak. Dit is ongelooflik om met Albert te werk. Ek ken hom al vandat ek 16 jaar oud is en daar is net daardie absolute vertroue wat jy kry as jy die ander persoon so goed ken. Dit is amper ʼn short cut in ons voorbereiding, om mekaar so goed te ken dat ek net in Albert se oë kan kyk en weet, ‘oukei, hier gaat ons nou’.”

Tien duisend ton het reeds vroeër vanjaar by die US Woordfees debuteer en het daar reeds puik reaksie uitgelok. “Dit is so lekker as jy ʼn produksie al kon speel en jy kan agterna hoor wat mense daarvan dink. En by die Woordfees het ons sulke diverse gehore gehad, regtig mense van alle ouderdomme wat kom kyk én daarby aanklank gevind het,” sê Schutte.

“Ek dink die verhaal is net so ʼn mooi weerspieëling van twee mense wat in ʼn verhouding is en ʼn span is, maar steeds twee individue is wat elkeen op sy eie manier groei en gedagtes vorm en die paaie wat hulle moet stap om daar te kom.”

Oor feeste en troue-hou

Vanjaar sal die agtste jaar wees dat Schutte as professionele aktrise by Aardklop betrokke is, maar sy het reeds as tiener al die Aardklop-feesterrein platgeloop en “met groot bokkie-oë” die produksies gekyk. Vir haar is dit ʼn riem onder die hart om te sien hoeveel mense elke jaar Aardklop ondersteun.

“Net om te sien hoeveel mense sê ons gáán kaartjies koop en ons gaan hierdie fees ondersteun, want ons het ʼn behoefte aan so ʼn fees, is ongelooflik. Ja, dit is vir ons as akteurs dikwels ons brood en botter, maar dit is ook méér as dit. Dit is platforms om ons stories te vertel,” sê sy.

Cintaine Schutte.

“Elke fees bied ook sy eie unieke vibe en die gehore by elke fees verskil, so dit is lekker om ʼn stuk vir ʼn klomp verskillende gehore te kan opvoer, want dit bied jou ʼn ander uitdaging elke keer.”

Die Aardklop-produksies is egter net twee van die talle balle wat Schutte in die lug moet hou. Sy het pas klaar verfilm aan die tweede seisoen van Fynskrif waarin sy die ystervrou Katrien Nienaber speel en die verfilming van seisoen drie van die reeks sal binnekort begin.

Die produksie Huishou, waarvan Schutte die vervaardiger is, is pas by die Vrystaat Kunstefees op die planke gebring en gaan binnekort by die Kalfiefees en hopelik ook later in die Kaap te sien wees. Schutte sal ook vanjaar weer as beoordelaar optree vir die ATKV Tienertoneel-kompetisie.

En tussendeur dié besige program moet sy nog ʼn troue ook reël! Sy en haar verloofde, Carel Nel, beplan om voor die einde van die jaar voor die kansel te staan. “Partykeer vergeet ek ek is veronderstel om nog ʼn troue ook te reël!” lag sy. “So tussendeur die woorde-leer en die rondhardloop, onthou ek ‘o ja, ek moes nog die blomme reël’!”

Maar sy is nooit te besig om haar seëninge te tel nie. Elke dag is sy dankbaar dat sy die geleentheid het om te doen wat sy doen. “Ek is baie lucky. Ek is so dankbaar vir hierdie jaar en die jaar het soveel ongelooflike materiaal, ongelooflike karakters en cool mense oor my pad gebring,” sê sy.

Enige opdraandes en hindernisse wat oor haar pad kom, vat sy soos dit kom. Oopkop. Dapper. “Daar is ʼn aanhaling wat lui: Trust the wait. Embrace the uncertainty. Enjoy the beauty of becoming. When nothing is certain, anything is possible. En daardie woorde dra my.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.