Cintaine Schutte: ‘Mense ís nog uitgehonger vir teater’

Cintaine Schutte in ‘Die dinge van ‘n kind’ (Foto: Robert Hamblin)

“Die pandemie het my laat groei en my geduld getoets. Maar dit het my ook laat besef dat teater met niks anders vervang kan word nie en dat mense steeds uitgehonger is vir teater.”

Só sê Cintaine Schutte, wat eersdaags haar eenvrouproduksie Die dinge van ʼn kind na die AfriForum Teater in Pretoria bring.

Dié produksie het by die Aardklop Nasionale Kunstefees in 2019 gedebuteer en daarna het sy dit ook by die US Woordfees opgevoer. Maar net voordat sy op die KKNK se verhoog kon klim, is dié fees, saam met alle ander feeste in Suid-Afrika, weens die Covid-19-pandemie gekanselleer.

Schutte sê dit is vir haar heerlik om weer op die planke te kan klim, veral omdat dit hierdie keer in ʼn teater in Pretoria is – ʼn stad waar sy gebore en getoë is en waarvoor sy baie lief is.

Cintaine Schutte in ‘Die dinge van ‘n kind’ (Foto: Robert Hamblin)

“Daar is iets ongeloofliks aan ʼn teater; tussen jy wat op die planke is en jou gehoor. Dis amper asof daar ʼn kontrak geteken word en dat julle saam die besluit neem om kwesbaar met mekaar te wees. Dit is so lekker om weer ʼn storie te kan vertel,” sê sy.

Schutte verduidelik dat twee storielyne parallel met mekaar loop om die storie van Mart Vermaak in Die dinge van ʼn kind te vertel – een in die 70’s waar Mart ʼn jong tiener is, en een in die 90’s waar sy ʼn 30-jarige in Londen is.

Die dinge van ʼn kind is gebaseer op Marita van der Vyver se 1994-Bildungsroman met dieselfde naam, wat deur Francois Toerien in ʼn verhoogteks omskep is.

“Mens kry ʼn blik op soveel karakters in Mart se lewe, asook haar eie bekommernisse, verwagtinge en wroegings. Dit is as’t ware intieme eerlikheid oor grootword, tienerjare en hormone en wanneer jy jou onskuld verloor. Ons kyk ook na die politieke temperatuur tydens die 70’s en 90’s in Suid-Afrika.”

Schutte sê Die dinge van ʼn kind is baie relevant in haar eie lewe en dat ʼn wye verskeidenheid van mense hulself met die teks sal kan vereenselwig.

“Marita het ʼn manier om emosie op mense af te dwing. Die boek praat met soveel mense – man of vrou en van enige ouderdom. Daar is iets in die storie wat elke liewe persoon aanraak, want Marita het ʼn manier om elkeen se menslikheid vas te vang.”

Schutte is ook tans besig met haar jongste teaterproduksie genaamd Dobbel wat later vanjaar by feeste sal speel. Haar teaterstuk Huishou, saam met Nadia Velvekens, is ook nou verfilm en gaan deel van die kykNET-kortstoriefilms wees. Sy is ook van plan om vanjaar verder te toer met Die dinge van ʼn kind.

Die dinge van ʼn kind is van 11 tot 15 Mei by die AfriForum Teater in Pretoria te sien. Kaartjies kan hier gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VannieBaai ·

Ek is mal oor dié vrou as aktrise. Sy het ‘n besonderse talent!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.