Fietsry ten bate van die Teaterbystandsfonds

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees gaan van 2 tot 6 Junie die fietswiele laat sing ten bate van die Teaterbystandsfonds (TBF).

’n Aardklop-span van 17 personeellede vertrek op 2 Junie per fiets uit Potchefstroom vir die groot tog na die ATKV Natalia-oord aan die Suidkus van Kwazulu-Natal. Op die pad slaap hulle oor by Kroonstad, Bethlehem, Ladysmith en Pietermaritzburg en sal op 6 Junie in Durban aankom.

Andries Vrey, uitvoerende hoof van Clover Aardklop sê die fietstoer is enersyds ’n bewusmakingsveldtog vir die TBF en andersyds om geld in te samel vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen. “Sonder kunstenaars sal feeste nie bestaan nie. Net soos ons vir jong kunstenaars by Aardklop die geleentheid gee om tot die bedryf toe te tree, kan ons nie vergeet van die kunstenaars wat vir dekades lank die bedryf gevoed het nie,” sê Vrey.

Die Teaterbystandsfonds is 50 jaar gelede gestig. Dit is ’n liefdadigheidsorganisasie wat deur vrywilligers bestuur en geadministreer word – sonder enige hulp van die staat of korporatiewe skenkings.

Tans is daar meer as 20 afhanklikes wat elke maand ’n toelaag ontvang. Die TBF kry ook op ’n gereelde grondslag versoeke om te help met mediese en hospitaalonkostes. Die TBF se kapitaalfonds is egter nie genoeg om aan al die versoeke te voldoen nie.

Op langtermyn wil die TBF ’n huis bekom waar mense uit die bedryf (ingesluit diegene wat al die jare agter die skerms gewerk het) met waardigheid versorg kan word en wat ook voorsiening sal maak vir mediese geriewe.

Clover Aardklop as fees maak jaarliks ’n skenking aan die TBF, wat verlede jaar uitgebrei is deur borge en kunstenaars in hul persoonlike hoedanigheid te betrek. En nou word die net nog wyer gespan deur ook aan te klop by die publiek ter erkenning van en uit waardering vir die betrokkenes by die uitvoerende kunstebedryf wat gehore en kykers se lewens daagliks verryk.

Mense wat ’n bydrae wil maak kan, tot 10 Junie, bloot “TBF” na 40770 SMS. Elke SMS kos R20. Lede van die publiek is ook welkom om op die onderskeie dorpe die Aardklop-fietsryspan te ontmoet en meer te wete te kom oor die TBF.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.