‘Die Kaap is weer Holms’ draai in Fourways

Die Kaap is weer HOLMS. Foto: Verskaf

Die Kaap is weer HOLMS. Foto: Verskaf

Oefen solank jou maagspiere want Marion Holm se soloproduksie, Die Kaap is weer Holms, is van 23 Augustus tot 4 September in die Studio-teater by Montecasino in Fourways te sien.

Dié aktrise sê sy wil hê dat die lewe weer vir mense lekker moet wees, daarom herinner sy haar gehore aan die belangrikheid vir “lig lewe” in dié produksie.

“Elke mens wil elke dag hê dat sy lewe lekker moet wees, maar as ons moet wag vir ʼn maer lyf, baie geld en eerlike politici om ons Kaap weer Hollands te maak, dan gaan ons lank wag,” het sy gesê.

Holm, wat sedert 1986 ʼn gerekende aktrise is, het al in meer as 60 teaterproduksies opgetree, meer as 20 keer op televisie verskyn, meer as 20 produksies geregisseer en meer as tien tekste die lig laat sien.

Sy het vroeër vanjaar ook ʼn ATKV Mediaveertjie ingepalm as beste aktrise in ʼn dramareeks of enkeldrama vir haar rol in Vlug na Egipte, en was benoem vir ʼn Tempo-toekenning.

Holm se voorstel is om vir niks te wag nie, maar self jou eie lewe gelukkig te maak: “Maak jou Kaap weer Holms.”

Chris Vorster is weer die regisseur en medeskrywer van hierdie produksie waarin Holm vertel hoe troues en 21ste verjaardae gevier is in die 70’s, van ʼn TV-opname saam met die aktrise Sann de Lange, kinders se vreemde name deesdae, die Afrikaner se pyn, FICA-reëls, haar studentedae en die liefde.

Met haar storievertelstyl maak Holm die gehoor se Kaap weer Holms deur haarself meestal die onderwerp van die grap te maak; openlik en eerlik oor al haar skete, fobieë en koddighede.

Kaartjies vir dié produksie kos van R130 tot R165 en is beskikbaar by Computicket. Afslag op groepbesprekings en vir pensionarisse is beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Sy is deel van ‘n gesin van uitmuntende kunstenaars, maak bykans nie saak in watter rigting van die kunste. Dit sluit ook in ‘n oulike vrou onderleg en gekwalifiseerd om metaal smeewerk te doen. Die restourasie van oudhede soos waens is vir hulle ‘n grap. Die beste van alles is dat almal woeker met hulle talente. Voorwaar merkwaardige mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.