Die Skepping – ‘n Oratorium

Foto uit “Die Skepping – ‘n Oratorium” Foto: De Kat

Terug op publieke aanvraag in Pretoria & Kaapstad!

Staatsteater operahuis 17 & 18 Augustus 2013
Artscape Operahuis 31 Augustus & 1 September

Die Skepping – ‘n Oratorium, aangebied deur FNB, gekomponeer deur musiek-legende Janine Neethling met woorde deur Deon Opperman, het vroeër vanjaar gehore in die Staatsteater se Operahuis betower en is met staande-toejuigings ontvang.

Die Skepping is die eerste Afrikaanse oratorium wat nog ooit in ‘n Suid-Afrikaanse operahuis aangebied is. As gevolg van oorweldigende publieke aanvraag, het FNB besluit om hierdie skouspelagtige werk weer in Pretoria aan te bied en ook sommer die produksie na Kaapstad te neem.

Benewens ‘n volledige orkes (The Johannesburg Music Initiative), koorsang deur die wêreldbekende Akustika koor, en soliste – Magdalene Minnaar (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Barend van der Westhuizen (bas) en Cobus Venter (tenoor), word die musiek deurgans deur ʼn visuele skouspel van beelde, geskep deur die bekende Kaapse visuele kunstenaar, Wessel Albertse, begelei. Dit is raar dat soveel groot name van die Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap by een produksie betrek word.

Vooraanstaande resensent, Paul Boekooi, het Die Skepping beskyf as “… ‘n produksie wat maklik die sinne oorrompel en dit is presies wat eietydse gehore verkies: ‘n skouspel.”

FNB het ʼn trotse geskiedenis van ondersteuning van Suid-Afrikaanse kunste en is trots om die tweede seisoen van “Die Skepping – ‘n Oratorium” te borg. “Die Skepping is ‘n teaterproduksie wat nie net vermaak verskaf nie, maar sy gehoor in verwondering laat met die enorme talent wat in een vertoning saamgesnoer is,” sê Bernice Samuels, FNB se hoof-bemarkingsbeampte.

“As ‘n trots Suid-Afrikaanse bank, laat ons ondersteuning van Die Skepping ons toe om die verskeidenheid ontwikkelende talent van ons land se wonderlike kulture, ten toon te stel, en ons nooi alle Suid-Afrikaners uit, jonk en oud, om saam met ons in die ervaring van hierdie ongelooflike vertoning te kom deel,” sluit Sameuls af.

Die Skepping – ‘n Oratorium word in sewe bewegings aangebied – GENESIS; AARDE; LEWE; MENS; BESKAWING; GELOOF en HEMELVAART – elk met sy eie, unieke bydrae tot die geheel van die Oratorium.

Hierdie groot werk word vir slegs twee vertonings in die Staatsteater aangebied op 17 & 18 Augustus, waarna dit na die Artscape Operahuis verhuis vir twee vertonings op 31 Augustus & 1 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.