Dié tweemanstuk kyk na verhoudings, sê akteur

Foto: Verskaf

Edwin van der Walt en Dean-John Smith. Foto: Verskaf

Die tweemanstuk, A Cock & Bull Story, is ʼn produksie oor verhoudings tussen mense, veral verhoudings tussen mense wat mekaar goed ken en presies weet hoe om mekaar se ”knoppies te druk”, sê die akteur Dean-John Smith (wenner van ʼn Fleur Du Cap en ʼn Kanna), wat een van die rolle daarin vertolk.

Die produksie handel oor ʼn belowende jong bokser wat op die vooraand van ʼn geveg wat sy loopbaan kan maak of breek, wag vir sy boesemvriend, Jaco (Edwin van der Walt), wat hom altyd geestelik en fisies voorberei vir sy gevegte.

“Hoe meer jy van iemand weet, hoe seerder kan jy hom maak. Hierdie produksie sê ons moet na ons verhoudings kyk en hoe ons die mense in ons lewens hanteer.”

Edwin meen hoewel dié produksie ʼn dieper betekenis het, is dit nie ʼn swaar produksie nie. “Die produksie gaan oor ʼn bokser en sy verhouding met sy beste vriend, wat ook sy afrigter is. Op die oppervlak is dit grappig en tipiese grootbekpraatjies tussen twee mans in ʼn kleedkamer, maar die ondertoon en boodskap van die produksie is beslis ʼn bietjie dieper.”

Dean sê hy en Edwin kom baie goed oor die weg en dit maak die produksie soveel makliker, veral omdat ʼn tweemanstuk baie moeiliker is met slegs twee mense om die energievlak te behou.

“Jy is konstant op die verhoog en moet van die begin tot die einde mense se aandag behou. As daardie energie eers geval het, is dit moeilik om dit weer op te tel. As jy ʼn goeie verhouding het met die ander akteur weg van die verhoog, weet jy, jy gaan oukei wees op die verhoog, want julle vertrou mekaar. Wanneer ek saam met Edwin op die verhoog gaan, weet ek dit sal goed gaan.”

Die regie en ontwerp word deur Marthinus Basson behartig en Chris Pienaar sit in die vervaardiger se stoel.

Die produksie is tot 26 Junie by Montecasino op die planke. Besoek Computicket vir kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.