Dinsdae by Morrie

18-30 Oktober 2011 / Staatsteater

Chris van Niekerk en Pedro Kruger in Mitch Albom en Jeffrey Hatcher se Dinsdae by Morrie. Vertaal, verwerk en geregisseer deur Hennie van Greunen.

Verskeie uitgewers het Mitch Albom aangeraai om te vergeet van sy droom om Tuesdays with Morrie ooit te laat publiseer. Maar in 1996 maak dié beskeie boekie wel sy buiging op die internasionale mark. Die boek is vir 250 weke op die New York Times se topverkoper-lys en sedertdien is daar meer as 11 miljoen kopieë wêreldwyd in druk. Die boek het ook oorsprong gegee aan ʼn suksesvolle film- en verhoogproduksie, en hierdie verhoogproduksie word nou in Afrikaans vertaal en aangepas deur Hennie van Greunen, wat ook verantwoordelik was vir produksies soos Festen, Die vrou wat haar man gekook het en Shirley Valentyn, wat almal ʼn groot impak op die plaaslike toneelfront gemaak het.

Dinsdae by Morrie vertel die storie van Tiaan Alberts, ʼn sportjoernalis wat in die vroeë 90’s onder prof Morrie Schwartz gestudeer het. Ten spyte van beloftes om kontak te hou met sy ou mentor, vang die lewe vir Tiaan en jaag hy prestige, geld en hoofopskrifte na teen ʼn pas wat sorg dat sy persoonlike lewe agterweë bly. Totdat hy een aand sy ou prof op televisie sien en uitvind dat hy gediagnoseer is met ALS, oftewel Lou Gehrig’s disease, ʼn terminale siekte wat Morrie stadig reduseer tot ʼn skadu van die man wat hy was. En Tiaan gaan kuier, net om tot siens te sê, maar Morrie oorreed hom om elke Dinsdag te kom inloer. En so begin die laaste lesing van prof Morrie Schwartz. Die onderwerp is Die Lewe. Die lesinglokaal is die prof se sitkamer. Die teksboek is Morrie se boerse wysheid. En die student is Tiaan. Met empatie, insig en meer as net ʼn bietjie humor herinner Morrie vir Tiaan en sy generasie dat ‘ons vir mekaar moet liefhê, anders vergaan ons.’
Pedro Kruger (Op die vrou af, Die vrou wat haar man gekook het, Lyf, Blougat) se ondervinding as een van ons land se mees veelsydige akteurs maak hom die perfekte keuse vir die rol van Tiaan, die gefrustreerde jazz-pianis wat die keuse gemaak het tussen sy passie en sy beursie. En sy sarkastiese visie van die wêreld verander stadig soos Morrie se lesse Dinsdag na Dinsdag sy denke vul.

Die ervare akteur Chris van Niekerk (7de Laan, Magspel, Die Ryk Weduwee) se empatie en menslikheid kom goed te pas in die rol van Morrie, wat stadig maar seker moet sien hoe sy eie lyf selfmoord pleeg. Met trane, wysheid en humor vervaag sy kantoormure en raak sy laaste lesing een wat miljoene mense reg oor die wêreld weer laat dink oor wat werklik belangrik is in die lewe. Dinsdae by Morrie het al meer as 100 optredes landwyd gehad en die terugvoer van die publiek is ongelooflik. Nou tref die produksie die Staatsteater, waar dit in die Arenateater te siene sal wees vanaf 18 – 30 Oktober 2011. Bespreek by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.