Dis koue kos skat

18-19 Augustus 2011 / Centurion Teater
(Marita van der Vyver/Alexa Strachan)

Marita van der Vyver het in 1992 letterkundige opspraak gemaak en gesorg vir ’n blitsverkoper met haar eerste volwasse roman Griet Skryf ’n Sprokie. Dit is tot in Chinees en Yslands vertaal. Sy is voltydse en veelsydige skrywer wat sedertdien verskeie romans, kortverhale, jeugverhale en selfs prenteboeke vir kleuters daargestel het. In Van der Vyver se jongste roman Dis koue kos, skat maak die leser kennis met Clara Brand, korrespondent van faam, deur haar ontboesemings in briewe, e-posse en fakse aan haar ontroue man, vriendinne en susters. Eintlik skreeu sy om wraak, want eggenoot Bernard het haar en hulle drie kinders gelos vir een van haar beste vriendinne! Elzabé Zietsman, “actress, songstress, chefstress” was ernstig op soek na ’n toneelstuk sonder sang vir een vrou. Sy wil hiermee terugkeer na die essensie van teater, maar kon nie die regte werk opspoor nie. Tydens Van der Vyver se verblyf by Zietsies, Zietsman se gastehuis cum teaterrestaurant, het ’n verhoogverwerking van die roman ter sprake gekom omdat Dis koue kos, skat al die moontlikhede en uitdagings bevat waarna sy soek. Die skryfster was summier hiervoor te vinde. Alexa Strachan, wat ook verantwoordelik was vir die aanpassing van Marita se Vergenoeg, is onmiddellik ingespan om die verwerking te doen. Laasgenoemde produksie was ’n treffer by al die kunstefeeste en word steeds by verskeie venues aangebied. Dit het Sandra Prinsloo, Milan Murray en Strachan self in die rolverdeling. Omdat ’n regisseur met ’n baie besondere aanvoeling nodig is om volle reg aan die verwerking en die karakter te laat geskied, is besluit op André Odendaal – wat inderdaad ook die regie van Vergenoeg behartig het – en wie se bevoegdheid deur die talle toekennings wat hy reeds ontvang het, onderstreep word. Soos die roman is Dis koue kos skat op die verhoog ’n vreeslose, soms skreeusnaakse hart oopmaak. Dit is egter onmoontlik om ’n roman in sy totaliteit binne 70 minute weer te gee en Strachan het op die kern van die werk en die karakter ingegaan. Die toneelstuk is slim, genuanseerd en gesofistikeerd, maar Clara huiwer nie om iets by die naam te noem nie! Daarbenewens bevat dit diep ontroerende oomblikke. Elzabé Zietsman, die aktrise hier gestroop van die kabaretbykomstighede, laat uitmuntend reg aan die teks geskied. Dit skitter en ontplof, skok en verkwik en sal mans net soveel as vroue vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.