Disney-musiekblyspel kom kuier in SA

“The Magic Box” draai later in Suid-Afrika. (Foto: verskaf)

Musiek- en Disney-liefhebbers kan gerus hul ore spits, want iets lekkers is op pad planke toe.

ʼn Opwindende Disney-musiekspel, The Magic Box, sal in Oktober vanjaar by die Kunstekaap in Kaapstad draai en in November by die Teatro in Johannesburg.

Dié musiekspel het in Januarie 2024 in Buenos Aires gedebuteer en bevat ʼn Suid-Afrikaanse rolverdeling en tegniese span. Teatergangers kan uitsien na musiek vanuit Disney se geliefde liedjieboek, interessante stories en indrukwekkende poppespel.

“Ons is opgewonde om betrokke te wees in ʼn vennootskap met internasionale vervaardigers om hierdie splinternuwe produksie van The Magic Box Suid-Afrika toe te bring voordat dit op ʼn wêreldtoer vertrek,” sê Hazel Feldman, hoof van Showtime Management en vervaardiger van die blyspel.

“Gehore kan verwag dat hul asems weggeslaan sal word deur innoverende kreatiwiteit, unieke vertonings en die wonderlike towerkuns van Disney op die verhoog in ʼn blyspel.”

Die vertoning sluit uittreksels uit meer as 75 Disney-liedjies in, geskryf deur invloedryke liedjieskrywers en komponiste. Dié komponiste sluit onder meer in Alan Menken, Phil Collins, Elton John, Kristen Anderson-Lopez, Robert Lopez, Lin-Manuel Miranda, Tim Rice, Richard en Robert Sherman en Hans Zimmer.

Aladdin se “A Whole New World”, Encanto se “We Don’t Talk About Bruno”, Moana se “How Far I’ll Go”, The Lion King se “Circle of Life” en Let It Go se “Frozen” sal tydens die musiekspel te hore wees.

Disney-liefhebbers sal van 15 tot 21 Mei hul name op die waglys kan sit, wat hulle toegang tot die 24 uur lange voorafverkope later vandeesmaand sal gee.

  • Algemene kaartjieverkope open op 22 Mei 2024. Kry kaartjies hier.
  • Besoek hierdie webwerf om jou naam op die waglys te plaas sodat jy kaartjies ʼn dag vroeër (21 Mei) kan aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.