‘Dit gaan goed’ met ‘Die Kaplyn’ se Ilán

Ilán van Staden in “Die Kaplyn” (Foto: Jannes Erasmus/Facebook)

“Dit is ʼn baie vreemde sensasie – dit voel asof jy pas ʼn maraton voltooi het, terwyl jy eintlik op die vloer met hartkloppings lê.”

Dít is hoe Ilán van Staden, wat een van die hoofkarakters in Die Kaplyn vertolk, sy onlangse mediese noodgeval tydens een van die vertonings beskryf het.

Die Kaplyn speel teen die agtergrond van die grensoorlog in die 1980’s af en is tans op die planke van die AfriForum Teater in Pretoria te sien. Ilán vertolk die rol van Ben Joubert Jr., een van die hoofkarakters in die produksie.

’n Uitvoering van dié musiekblyspel is skielik Saterdag stopgesit nadat Ilán tydens die pouse inmekaargesak het. Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van die produksie, het hom op die betonvloer aangetref.

Die res van die akteurs het kort daarna rondom Ilán gaan staan en vir hom bid.

Van Staden se hartklop was in daardie stadium ongeveer 200 slae per minuut.

“Die akteurs, produksiespan én gehoor het daardie aand ’n laer van gebed om my getrek,” vertel 27-jarige Ilán.

“Dit was ’n angsaanjaende ervaring, ek erken dat ek in die oomblik nie oukei was nie, maar ek was kalm.”

Toe hy hoor dat die gehoor nie net begrip gehad het vir die besluit om die vertoning voort te sit nie, maar ook vir hom gebid het, het hy in trane uitgebars.

“Wat vir my uitgestaan het, was hoe ons kan saamstaan, die eenheid wat ons tydens die vertoning ervaar het.

“Dit was my vir so spesiaal om te sien hoe ’n groep mense saamstaan in harmonie. Ons is geroep om in harmonie te leef ongeag ons agtergrond.”

Tientalle mense het intussen na Ilán uitgereik met voorstelle en verwysings na interniste en spesialiste om die harttoestand aan te spreek. Hy is in die proses om een van dié spesialiste te gaan sien.

Dit is nie die eerste keer wat Ilán so iets ervaar nie, vertel hy. Hy was maar in gr. 4 toe dit die eerste keer met hom gebeur het.

“Dit is skielik daar en skielik weg,” verduidelik hy oor die vreeslike hartkloppings wat hy ervaar het.

“Dit is baie moeilik om iets daaruit te diagnoseer, juis omdat dit nie in enige elektrokardiogram (EKG) opgetel kan word nie.”

Ná die ineenstorting Saterdag is ’n ambulans ontbied, ’n EKG gedoen en geen ongerymdhede met sy hart bevind nie.

“Dit gebeur elke keer ná so ’n episode,” vertel Ilán. “Dit is ook waarom dit moeilik is om ’n diagnose te kry.”

Ilán voel egter positief, gesond en gereed om dié naweek weer op die planke te wees.

  • Die Kaplyn sal tot en met 4 Junie by die AfriForum Teater in Pretoria te siene wees. Koop jou kaartjies hier.
  • Daar is twee ekstra vertonings bygevoeg, 1 Junie om 18:00 en 2 Junie om 11:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.