Dowwe Dolla ‘waai koebaai’ ná twee dekades

Meyer-Rödenbeck as Dowwe Dolla (Foto: Robert Hamblin)

Margit Meyer-Rödenbeck se alter ego, Dowwe Dolla, tree eindelik uit en gaan vir ʼn laaste keer die land plat toer met haar “Stop-start koebaai-waai-toer”, soos sy dit noem.

Meyer-Rödenbeck het in 2020 reeds aangekondig dat Dowwe Dolla gaan aftree, maar al haar laaste vertonings moes gekanselleer word weens die Covid-19-pandemie. Noudat sy weer op die planke mag klim, wil Dolla haar aanhangers in die oë kyk en behoorlik groet.

Sy het verlede jaar met haar 50ste verjaarsdag besef sy het te veel hooi op haar vurk vir alles wat sy nog wil bereik voor sy oud word.

“Ek het besef ek gaan moet afskaal – een van my vele projekte sal moet gaan – en  toe val die lot op Dolla,” vertel sy.

Dowwe Dolla is al vir 21 jaar deel van die Afrikaanse vermaakbedryf en Meyer-Rödenbeck sê sy was selfs ietwat van ʼn bedreiging aan die begin, want mense wou net altyd alles van Dolla weet.

“Sy stap al so lank saam met my ʼn pad, en sy het wonderlik gegroei en ontwikkel en ʼn goeie politieke kommentator geraak. Dolla was baie goed vir my deur die jare.”

Meyer-Rödenbeck sê dit is net gepas om een laaste jaar van vertonings te hou om van Dolla afskeid te neem. Daarom voer sy Dowwe Dolla se laaste komedie-kabaret-vertoning Dowwe Dolla: Nou of Nooit vir oulaas op.

Dowwe Dolla: Nou of Nooit (Foto: Versakf)

“In Dowwe Dolla: Nou of Nooit kry ons ʼn bietjie agtergrond oor Dolla se twee dekades. Sy praat oor wynproe, mans en vroue, haar kinderjare en troeteldiere. Daar is lekker baie satire in, veral in die liedjies.

“Dolla probeer wegbly van die korona-onderwerp, want mense is al so moeg daarvan. Sy probeer ook om nie te veel te praat oor die politiek nie, maar dit glip tog deur wanneer sy ʼn eier móét lê.”

Meyer-Rödenbeck sê sy is uiters opgewonde daaroor om waarlik weer voor ʼn gehoor te staan, ná die lang tyd van afsondering.

“Ek kan nie wag om voor ʼn gehoor, eerder as ʼn kamera te speel nie. Dolla is interaktief, ek het die gehoor nodig – hulle is my medespelers. Ek borrel van opgewondenheid, want die vertoning is al vier keer uitgestel.”

Meyer-Rödenbeck erken sy gaan Dolla verskriklik baie mis, maar dit is tyd vir ander horisonne.

“Wat ek gaan mis, is Dolla se selfvertroue – sy stap met waagmoed, sy borrel en dis so lekker vir my. Ek gaan ook die gehoor se lag en asems wat snak, mis as Dolla iets kwytraak. Lag is so goed vir jou en dit was nog altyd vir my lekker om deel te wees van ʼn goedvoel-ervaring.”

Wat sy wel nié gaan mis nie, is om opgetof te raak, die hemelhoë hakskoene en veral al die stokkielekkers.

“Die stokkielekker was eintlik net ʼn sekuriteitskombersie wat ek gegryp het, want ek was jonk en nuut in komedie en het nie geweet wat om met my hande te doen nie. En toe raak dit Dolla se kenteken!”

Meyer-Rödenbeck sê sy gaan dit ook geniet om die ander helfte van haar klerekas weer terug te hê wanneer sy nie meer Dolla se klere by haar hoef te hou nie.

Dowwe Dolla: Nou of Nooit begin op 19 en 25 Mei by die Atterbury-teater in Pretoria. Kaartjies kan hier gekoop word. Dowwe Dolla toer die hele land vol, sien die ander datums hier op haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Smaak verskil. Ek het haar geniet. Sy was nog altyd skerp en heel slim oo die verhoog teenoor die gehoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.