Doyenne van teater vir lewenswerk gehuldig

Sandra Prinsloo in ‘Spertyd’. (Foto: Robert Hamblin)

Die doyenne van teater, Sandra Prinsloo, is Sondag by die 57ste Fleur du Cap-toekenningsgeleentheid op Nederburg buite Paarl gehuldig vir haar lewensbydrae tot Suid-Afrikaanse teater- en televisiebedryf.

Sy het die prys ontvang vir beste vertoning in ʼn eenpersoonvertoning vir haar uitbeelding van Elsa Joubert in Spertyd. Dit is die verhoogweergawe van die bekende Suid-Afrikaanse skrywer se lewensverhaal met temas oor oud word, verlies en aanvaarding.

Lizelle Malan van Distell, die borg van die jaarlikse Fleur du Cap-teatertoekennings, sê Prinsloo (74) het oor die jare heen uitgeblink op die verhoog in plaaslike én internasionale rolprente en televisie.

“In haar ryk en uiteenlopende loopbaan het Prinsloo ʼn uitgebreide reeks karakters vertolk en elkeen met individualiteit, menslikheid, nuanse en diepte gevul. Sy was ʼn mentor en inspirasie vir geslagte van akteurs en het geredelik en vrygewig bygedra tot die Suid-Afrikaanse teater.

“Haar uitbeelding van Joubert, met sulke ysere grasie, humor en dapperheid in Spertyd, is maar net een voorbeeld van haar reusetalent. Ons is trots om met haar welverdiende prestasie verbind te wees en hoop sy gaan voort om haar talente aan gehore ten toon te stel.”

Volgens Africa Melane, voorsitter van die beoordelingspaneel, bied Prinsloo in gelyke mate uitstekende intellek, verstommende talent en ʼn onberispelike werketiek, soos haar vrouerolle in Shakespeare, Tsjekof, Williams en Strindberg getuig. Haar optrede in verhoogstukke van PG du Plessis, Bartho Smit, Rachelle Greeff en Nico Scheepers is eweneens onvergeetlik, meen Melane.

Prinsloo het die Arts and Culture Trust (ACT) Lifetime Achievement Award for Theatre in 2013 verwerf, en in 2014 het sy die Order of Ikhamanga (silwer) van die regering ontvang. In 2018 is sy ook deur die Naledi-teatertoekennings vereer vir haar lewensbydrae tot die bedryf.

Melane sê Prinsloo is destyds nie net vir haar uitstekende bydrae tot die uitvoerende kunste geloof nie, maar ook vir haar gebruik van die kreatiewe kunste om standpunt teen rassisme in te neem. Sy is “die trots van die land se kultuurgemeenskap” genoem.

Prinsloo was nie die enigste persoon wat meer as een prys op die gala-geleentheid ontvang het nie.

Anna-Mart van der Merwe (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Valsrivier, ʼn verwerking van Dominique Botha se gelyknamige roman, was die mees bekroonde produksie van die aand. Anna-Mart van der Merwe het die toekenning vir beste aktrise in ʼn hoofrol gewen, Peggy Tunyiswa vir die beste aktrise in ʼn ondersteunende rol en Wolf Britz vir die beste beligtingsontwerp.

Volgens Melane was dit vir die teatergemeenskap ʼn vreugdevolle ervaring om weer ná twee jaar persoonlik bymekaar te kom. “Ons weet daar is steeds ʼn lang pad na herstel, maar die grootste eerbewys wat ons vir die dapperheid van diegene wat aan die Suid-Afrikaanse verhoog behoort, kan betoon, is om voort te baklei totdat die teater in sy volle glorie terug is.

“Wat ons optimisties maak, is nie net die diepte van die plaaslike talent nie, maar ook sy opwindende omvang. Baie nuwe name sluit by die land se voorste kunstenaars aan. Jong en ervare spelers wat in die hoofstroom en eksperimenteel optree, asook in klassieke en nuwe stukke van internasionale én inheemse oorsprong. Dit toon ʼn bedryf ryk in geleentheid en mentorskap wat op ʼn lang lewe dui.”

Hier is ʼn volledige lys van die wenners:

  • Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks: Qondiswa James (A Howl In Makhanda)
  • Beste nuwe regisseur: Sipenathi Siqwayi (Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!)
  • Beste vertolking deur ʼn ensemble: Wessel Pretorius en David Viviers, verskeie rolle (The Waterworks Anthology)
  • Beste vertolking in ʼn revue, kabaret of eenpersoonvertoning: Sandra Prinsloo as Elsa Joubert in Spertyd
  • Beste beligtingsontwerp: Wolf Britz (Valsrivier)
  • Beste stelontwerp: Fred Abrahamse en Marcel Meyer (The Lady Aoi)
  • Beste kostuumontwerp: Fred Abrahamse en Marcel Meyer (The Lady Aoi)
  • Beste klankontwerp, oorspronklike musiek, klankbaan of lewende vertoning: Jannous Aukema vir klankontwerp en oorspronklike musiek in A Howl In Makhanda
  • Beste vertolking in ʼn opera – man: Makudupanyane Senaoana as Madwoman in Curlew River
  • Beste vertolking in ʼn opera – vrou: Siphokazi Molteno as Dorabella in Così Fan Tutte
  • Beste vertolking deur ʼn akteur in ʼn ondersteunende rol in ʼn toneelstuk, musiekblyspel of musiekteaterproduksie: Siya Mayola as Willie in Master Harold … And The Boys
  • Beste vertolking deur ʼn aktrise in ʼn ondersteunende rol in ʼn toneelstuk, musiekblyspel of musiekteaterproduksie: Peggy Tunyiswa as Mary Dlamini in Valsrivier
  • Beste vertolking deur ʼn aktrise in ʼn hoofrol in ʼn toneelstuk, musiekblyspel of musiekteaterproduksie: Anna-Mart van der Merwe as Sandra Botha in Valsrivier
  • Beste vertolking deur ʼn akteur in ʼn hoofrol in ʼn toneelstuk, musiekblyspel of musiekteaterproduksie: Desmond Dube as Sam in Master Harold … And The Boys
  • Beste regisseur: Paul du Toit (The Unlikely Secret Agent)
  • Beste produksie: Pieter Toerien Productions (The Producers)
  • Prys vir mees belowende student: Byron Mckeith (Northlink College)
  • Prys vir innovering in teater: Magnet-Teater se Early Years Programme
  • Toekenning vir lewensbydrae: Sandra Prinsloo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.