Drikus Volschenk op Woordfees-planke te sien in ‘DEURnis’

Drikus Volschenk en André Lotter is te sien in 'Droog'. (Foto: US Woordfees)

Drikus Volschenk en André Lotter is te sien in ‘Droog’. (Foto: US Woordfees)

Die bekende Afrikaanse akteur Drikus Volschenk wat verlede jaar te sien was in die derde aflewering van 20th Century Fox se Amerikaanse lokettreffer Maze Runner: Death Cure, is vanjaar op die US Woordfees in Stellenbosch in die produksie Droog te sien, wat deel vorm van die DEURnis 20-voor-2-konsep.

DEURnis 20-voor-2, ʼn eerste vir Suid-Afrikaanse teater, is ʼn uitbreiding van die een-tot-een ervaring (DEURnis een-tot-een): twee akteurs wat optree tussen 20 gehoorlede. Hierdie ongewone, omgewingspesifieke teaterervaring ondersoek die grense van teater op ʼn kreatiewe wyse – ideaal vir dié gehoorlid wat meer wil waag. ʼn Kaartjie gee jou toegang tot twee toneelstukke van ongeveer 45 minute elk.

Volschenk, wat onder meer in die Afrikaanse rolprente, Meerkat Maantuig en Dis ek, Anna, asook in Deon Opperman se Hartstog te sien is, speel saam met die akteur André Lotter in Droog. Die teks is geskryf deur Braam van der Vyver en die regisseur is Lihan Pretorius.

Droog handel oor Vincent (Volschenk) en Hendri (Lotter), twee munisipale amptenare vir wie dit net nog ʼn saai dag by die werk is.  Waterkwotas is ʼn werklikheid en Dag Zero het aangebreek.  Hoewel die kwik tussen Vincent en Hendri styg, is die watervlak aan’t daal … olie op die vuur – sonder enige water. Droog is ʼn satiriese en komiese blik op water, die tekort daaraan, korrupsie op voetsoolvlak, en wat jy sal doen vir jou druppel of twee.

“Dit is vir my ongelooflik lekker om aan hierdie produksie te werk,” sê Volschenk. “Ons het meestal gelag tydens repetisies en dit is heerlik om net ʼn bietjie lekker toneel te speel, dit te geniet en te lag.  Ek is so gewoond aan rolprent- en televisiewerk; so die feit dat daar nie ʼn kamera hier betrokke is nie en dat ʼn mens so bietjie komedie doen is net fantasties.”

Hy vertel dit is egter moeilik dat hulle net twee akteurs is wat in elke vertoning van 45 minute optree. “Daar is twee aanbiedings per dag. Daar is nie ʼn klomp ander mense op die verhoog waarop jy kan staatmaak nie. Dis net ek en André en ek moes vinnig leer om weer my woorde te onthou. Die produksie is vinnig met skreeusnaakse oomblikke, pittige sêgoed en ʼn ongelooflike tydsberekening.”

DEURnis 20-voor-2 word vervaardig deur Theatrerocket en word moontlik gemaak deur AK21, NATi en US Woordfees. Kaartjies kos R220 en is beskikbaar by Computicket. DEURnis 20-voor-2 is van 3 tot 9 Maart elke dag te sien in The Grappa Shed in Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.