Fiela se kind gevind

Shaleen Surtie-Richards as Fiela (Foto: Verskaf)

Shaleen Surtie-Richards as Fiela (Foto: Verskaf)

Aan die een kant van die berg, in die Lange Kloof, woon Fiela Komoetie, verknog aan haar hanskind; deur die Here aan haar “toebetrou” een nag toe sy hom as driejarige gekry het waar hy voor haar deur staan en huil, ʼn weggooilam. Aan die ander kant van die berg, in die bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou, Barta, wie se driejarige kind weggeraak het.

Die een kind is Benjamin Komoetie, die ander Lukas van Rooyen. Is dit dieselfde mens? Kon ʼn klein kind so ver geloop het, uit die bos tot in die Lange Kloof? Dié vraag word nege jaar later oopgekrap deur twee sensusmanne wat deur die Lange Kloof reis en die wit kind met die blou oë tussen die bruinmense kry.

En jare later is dit die vraag wat Benjamin/Lukas self vra: Wie is ek? Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het nooit syne wees nie. Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, bly dit hom ontwyk.

Dié verhaal van Dalene Matthee wat in 1985 as roman lesers se verbeelding aangegryp het, is verwerk vir die verhoog en is vandag en môre op die US Woordfees in Stellenbosch te sien.

Vian Singleton (Foto: IMDB)

Vian Singleton (Foto: IMDB)

ʼn Landswye soektog na akteurs om die rolle van Benjamin en die jong Nina te vertolk is vroeër vanjaar van stapel gestuur. Frans Swart, regisseur en vervaardiger van Fiela se kind, meen dié rolle pas die jong akteurs wat die oudisies suksesvol afgelê het, soos ʼn handskoen. “Nadat ons regoor die land meer as 300 kinders gesien het, het ons uiteindelik ons nuwe Benjamin (Vian Singleton van Meyerton) en Nina (Jaime du Toit van Vereeniging) gevind,” sê hy.

“Hierdie twee is ongelooflik talentvol en gaan beslis die baie belangrike rolle van die jong Nina en Benjamin volstaan. Ek is net so opgewonde oor Shaleen Surtie-Richards, die oorspronklike Fiela. En dan het ons twee wonderlike jong akteurs as die ouer Nina (Marissa Claasen) en die ouer Lukas (Phillru van Achterbergh).”

Dit is vanjaar presies 30 jaar gelede wat Surtie-Richards die rol van Fiela in die fliekweergawe vertolk het. “Ná al die jare sien ek vreeslik uit om weer die karakter van Fiela te speel en kan nie wag om weer op die verhoog te kom met hierdie lekker rol nie,” vertel sy.

Dit is die derde keer wat dié produksie deur Lefra na die verhoog gebring word.

Die produksie is op 8 en 9 Maart om 10:00 en 15:00 by die Stellenbosch-stadsaal te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Die produksie is ook te sien by ander geleenthede:

  • 30 April tot 5 Mei 2017: Oppiwater Kunstefees, MSC Sinfonia
  • 19 Junie tot 2 Julie 2017: Marcellus-teater, Emperors Palace, Kempton Park
  • 5 tot 8 Julie 2017: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, Nelspruit
  • 18 tot 22 Julie 2017: Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein
  • 21 tot 27 Augustus 2017: Baxterteater, Kaapstad
  • 28 Augustus tot 3 September 2017: Atterbury-teater, Pretoria
  • 3 tot 8 Oktober 2017: Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

botterblommetjie ·

Graag wil ek iets sê, maar op die end word jou skuilnaam saam jou korrekte epos addy geplaas…. google het baie inligting…

zahn ·

As jy iets wil sê, maar dit eerder onder ‘n skuilnaam wil sê, het dit wat jy sê, geen sê nie. Sê ek. Wat sê julle?

Sune van Heerden ·

Dagsê Botterblommetjie

Dit is nie presies duidelik waarna jy verwys nie. Jou e-posadres sal nie op Maroela Media gepubliseer word wanneer jy kommentaar lewer nie. Alhoewel ons toegang het tot jou e-posadres en dit aan die “agterkant” van die webwerf kan sien, sal ons nie jou inligting beskikbaar maak nie, kragtens die vertroulikheidsbeleid op ons bepalings en voorwaardes.

Ons webwerf word beskerm deur verskeie metodes om ook seker maak dat niemand onregmatig toegang tot ons inligting bekom nie.

Ek kan egter nie waarborg dat jou inligting ook so veilig gaan wees op enige ander webwerf nie.

Kontak ons gerus per e-pos by [email protected] indien jy ‘n spesifieke navraag het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

E ·

Een van die mooiste stories wat ek as kind op hoërskool gelees het. Dis is seker nie meer deel van die skool silabus nie. Kinders vandag ervaar nie ons mooi taal en wonderlikke kuns soos in die goeie ou dae nie. Daar is nie meer verbeelding en denke op vlerke nie, alles kom op ń skinkbord deur ń knoppie te druk. Eintlik baie hartseer om te dink ons kultuur is besig om stadig uit te sterf, maar bittersoet is hierdie toneelstuk terug op die verhoog. Net weereens ń bewys dat die liefde vir Afrikaanse kuns altyd sal bly, hoe klein ookal.

Johann ·

Klink vir my soos die ou omie wie elke dag na die selfde rolprent gaan kyk het, omdat hy gewag het vir die trein om laat te wees, dan sou hy sien hoe die dame heel naak uitrek

Johann ·

Maar o wee nou het die skone dame al stokoud geworre en die ou omie, ja ” hy is al lankal nie meer nie, maar net ‘n klein bietjie humor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.