‘Fiela se kind’ soek weer ʼn Benjamin

Shaleen Surtie-Richards as Fiela (Foto: Verskaf)

Dalene Matthee se gewilde boek Fiela se kind, wat ewe suksesvol was as die gelyknamige fliek in 1988, het verlede jaar gestalte as verhoogproduksie gekry en vanjaar is dié bekroonde toneelstuk weer terug op die planke.

Net soos verlede jaar is die produksiespan weer op soek na ʼn jong seun wat die rol van die jonger Benjamin Komoetie kan vertolk.

“Vian Singleton, wat verlede jaar die rol van Benjamin gespeel het, het die afgelope jaar baie gegroei,” het Frans Swart, regisseur van dié toneelstuk, gesê. “Ons is hartseer om van hom afskeid te neem, maar skielik pas die lummel van ʼn seun nie meer lekker in Fiela se bad nie. Dit is ongelukkig só ʼn ikoniese toneel dat ons ʼn kleiner seuntjie sal moet kry.”

Singleton het onlangs die Broadway World-toekenning vir beste byspeler in ʼn toneelstuk ontvang.

“Ons was oorweldig deur die sukses van Fiela se kind verlede jaar en juis daarom het ons besluit om vanjaar voort te gaan met hierdie epiese werk,” het Swart gesê.

Fiela se kind verleen hom werklik só goed vir die verhoog. Dit is so ʼn wonderlike storie oor die liefde alles wat alles oorwin. Die storie is universeel en tydloos.“

Oudisies vir die rol van die jonger Benjamin het reeds afgeskop. Die rol vereis ʼn wit seun tussen die ouderdomme van tien en 14 jaar en verkieslik klein gebou. Die seun moet bruin hare hê. Indien hy nie bruin hare het nie, moet hy bereid wees dat sy hare bruin gekleur word.

Drama-ondervinding en opleiding is ʼn pluspunt, maar nie ʼn vereiste nie.

Oudisies vir die rol van Willem, seun van Barta en Elias, word ook gehou. Die seun moet tussen 12 en 17 jaar oud wees. “ʼn Seningrige en fris seun sal voorkeur kry, want Willem woon in die bos en werk baie tussen die bome,” het Swart gesê.

Indien jy belangstel, kan jy jou CV en ʼn onlangse foto per e-pos na [email protected] stuur. Dit is belangrik om aan te dui presies vir watter rol jy ʼn oudisie wil aflê. Vir meer inligting skakel Charl Senekal by 011 815 3000 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.