Fiësta-pryse in ligte luim uitgedeel

Nataniël met sy Fiësta-beeldjie. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Sandra Prinsloo, Nataniël, Carlo Daniels, Christiaan Olwagen en Gideon Lombard is net ʼn handjievol bekendes in die Afrikaanse kunstebedryf wat Donderdagaand in Kaapstad met ʼn Fiësta-toekenning vereer is.

ʼn Ligte atmosfeer het geheers by The Lookout in die V&A Waterfront, waar die room van die kunstebedryf byeengekom het vir die 13de jaarlikse toekenningsgeleentheid.

Die Fiëstas vereer hoofsaaklik verhoogproduksies wat op kunstefeeste regoor die land gedebuteer het.

Die gesogte toekennings is in 13 kategorieë uitgedeel. Dr. Diana Ferrus, skrywer, digter en aktivis, en prof. Hubert van der Spuy is vir hulle lewensbydrae tot die kunste vereer.

Suidooster se Jawaahier Petersen en Fraksie se Melt Sieberhagen was die seremoniemeesters. Schalk Joubert, Ramon Alexander en Babalwa Mentjies het vir die musiekvermaak gesorg.

Van die bekendes wat die beeldjies oorhandig het, was Dawid Minnaar, Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Irshaad Ally en Nicola Hanekom.

Carlo Daniels. (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Die bekendes en onbekendes, veterane en nuwelinge wat gehore die afgelope jaar dwarsdeur die land op verhoë geroer en vermaak het, is helde in ons oë,” het Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale, gesê.

“Hulle was die benoemdes by vanjaar se Fiëstas. Uit hierdie reeds uitgelese groep het die Fiësta-paneel diegene gekies wat by die afgelope jaar se kunstefeeste die tydsgees presies reg gelees het en besondere werk kon skep.

“Ons sê baie geluk aan vanjaar se wenners, vir wie ons hoop die toekenning ʼn spesiale oomblik in hul loopbane sal wees. Tog bly selfs ʼn gesogte Fiësta-trofee die tweede prys – die eerste prys is altyd die waardering van die publiek.”

Stemme, ʼn teaterprojek wat deur die Suidoosterfees lewe gegee is, is met die spesiale Blou Fiësta-toekenning vereer.

Altesaam 15 dramaturge het kort kragtige monoloë in verskeie Suid-Afrikaanse tale geskryf. Dié monoloë is op die Suidoosterfees aangebied en is daarna verfilm en saam met die tekste op LitNet uitgereik.

Hier is die volledige lys wenners:

Beste spel in ʼn hoofrol

Sandra Prinsloo vir Die moeder (US Woordfees)

Beste spel in ʼn ondersteunende rol

Carlo Daniels vir Ek, Anna van Wyk (KKNK)

Beste regie

Christiaan Olwagen vir Die moeder (US Woordfees)

Beste teaterontwerp

Gideon Lombard vir die klankbaan en ontwerp van Karatara (KKNK, Suidoosterfees)

Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling

Adriaan Havenga vir Iewers in die grys (US Woordfees)

Beste prestasie in klassieke musiek

Handel at Home (US Woordfees, KKNK)

Beste prestasie in visuele kuns

Pitika Ntuli vir Azibuyele Emasiswene / Terugkeer na die bron (Vrystaat-kunstefees)

Beste musiekgedrewe produksie

Prima Donna (KKNK)

Beste bydrae tot ʼn musiekgedrewe produksie

The Ancient Voices (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies) vir Die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)

Beste feesproduksie

Die moeder (US Woordfees)

Beste opkomende kunstenaar

Adriaan Havenga: teks vir Iewers in die grys en sy spel en teks vir Om skoon te wees (Woordfees en KKNK)

Blou Fiësta

Stemme (Suidoosterfees)

Die oorhandigingsgeleentheid is nie vanjaar regstreeks uitgesaai nie, maar Fiësta se program op 24 Maart sal aan die glansaand gewy word en ʼn insetsel van die aand sal op Bravo! op 26 Maart gewys word.

Fiësta en Bravo! word op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.