Finaliste vir Revue 2018 bekend gemaak

Hoërskool Die Anker (Foto verskaf deur Lefra Produksies)

Lefra Produksies se gewilde nasionale revuekompetisie vir laer- en hoërskole is die afgelope twee weke by Carnival City se Mardi Gras-teater aangebied. Die finale afdeling waar die wenners aangewys gaan word, word op 12 September 2018 in die Big Top Arena van Carnival City aangebied.

Vier finaliste in die laerskole-afdeling en vier finaliste in die hoërskole-afdeling sal meeding om die titel van algehele wenner van Revue 2018.

Die finaliste in die laerskole- en hoërskole-afdelings is bekend gemaak.

Die finaliste in die laerskole-afdeling is:
• Laerskool Baanbreker van Boksburg
• Laerskool Hennopspark van Pretoria
• Laerskool Van Riebeeckpark van Kempton Park
• Laerskool Vastrap van Rustenburg

Die finaliste in die hoërskole-afdeling is:
• Hoërskool Die Anker van Brakpan
• Hoërskool Jeugland van Kempton Park
• Hoërskool Menlopark van Pretoria
• Midstream College Hoërskool van Centurion

Tydens die finale word daar ʼn wenner in die laerskole- sowel as die hoërskole-afdelings aangewys. Hierdie twee wenskole ding dan met mekaar mee vir die prys as algehele wenner van Revue 2018. Skole kan kontantpryse van meer as R36 000 wen. Die organiseerders van die wen-laerskool en wen-hoërskool wen ook ʼn vaart op Lefra Produksies en RSG se Oppiwater Kunstefees wat van 15-19 April aan boord die MSC Musica aangebied word. Die algehele wenner wen ook een van Lefra se uitstekende produksies waarmee die skool fondse kan insamel.

Vanjaar se beoordelaars is Lizz Meiring, Helene Bester en Duane Williams. Die aanbieder is Sue Pyle en die regisseur Frans Swart van Lefra Produksies.

Midstream College Hoërskool (Foto verskaf deur Lefra Produksies)

Swart sê dit is die derde jaar dat hierdie nasionale revuekompetisie aangebied word. “Dis ongelooflik hoe Revue! gegroei het. Skole, deelnemers en organiseerders geniet ons kompetisie baie, want ons motto is steeds dat dit ʼn Revue-fees moet wees,” verduidelik hy. “Natuurlik is die kompetisie-element belangrik, maar dis nie die alfa en omega van die fees nie. Dis so lekker vir my as ek sien dat die kinders Revue! so geniet. Skole kry die geleentheid om op ʼn professionele verhoog op te tree en ons hoop dat hulle ook baie sal leer in die proses. Maar ook om vriende met ander skole te maak en van mekaar te leer.”

Swart sê die idee het destyds van hom af gekom om ʼn nasionale revuekompetisie aan te bied. “Skole spandeer ongelooflik baie geld, tyd en energie aan hulle jaarlikse revue. Ek het net gevoel dat ons vir hierdie revues ʼn verdere lewe moet gee en vir die deelnemers nog kanse moet gee om verder op te tree. Kyk man, die standaard van revues is baie hoog. Dis eintlik mini-musiekblyspele. Ek was weer eens bitter bly ek was nie ʼn beoordelaar nie.”

Lizz Meiring, een van die beoordelaars, sê sy kon werklik nie haar oë glo nie. “Ek was totaal uit die veld geslaan. Hierdie kinders (en selfs die kleintjies van sewe en agt jaar oud) bied produksies aan wat werklik baie na aan professioneel is. Ek was veral beïndruk met die oorspronklikheid van die temas en hoe daardie temas uitgevoer is. Dit was werklik baie moeilik om by die finaliste uit te kom, want almal se standaard is baie hoog. So, om die wenners aan te wys, gaan nóg moeiliker wees.”

REVUE 2019 sal weer volgende jaar in Augustus en September by Carnival City aangebied word. Om in te skryf, of om inligting te bekom, skakel Monica by (011) 815 3000 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

Kaartjies vir die finale kan by elke individuele skool bespreek word of by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.