[Foto’s] Boeties se manewales nou in Pretoria

Die rolverdeling van My boetie se boetie se boetie se baba. Foto: Verskaf

Die rolverdeling van My boetie se boetie se boetie se baba. Foto: Verskaf

Lefra Produksies se teaterproduksie My boetie se boetie se boetie se baba het gehore by kunstefeeste tot dusver laat skater en bied Pretorianers nou dié geleentheid van 19 tot 23 Januarie.

Tom Koekemoer (Cobus Venter) en sy vrou, Linda (Cindy Swanepoel), is opgewonde oor die vooruitsig om ʼn baba aan te neem. Daar is egter ʼn kinkel: ʼn maatskaplike werker (Marga van Rooy) moet by hulle huisbesoek kom aflê. Dinge verloop egter nie so glad nie.

Hoewel Tom ʼn gerespekteerde middelklasbestaan voer, kan dieselfde nie van sy broers Dick (Botha Enslin) en Harry (Francois van Rensburg) gesê word nie. Dick het pas teruggekeer van Zimbabwe met gesmokkelde sigarette en brandewyn, en Harry probeer ʼn kadawer in Tom se tuin begrawe.

Om sake te vererger maak twee onwettige immigrante (Ana van Achterbergh en Dirk Vermeulen) hul opwagting, die preutse maatskaplike werker daag op asook  ʼn knaende polisiekonstabel (Duncan Johnson) wat snuf in die neus kry én die skobbejak Boris (Phillru van Achterbergh) wat sy betaling kom haal. Dis gewis ʼn resep vir tammeletjie.

Die regisseur, Frans Swart, sê My boetie se boetie se boetie se baba is een van daardie verhoogproduksies wat oor al die elemente beskik om mense aan die lag te kry en aan die lag te hou. “Mense moet net kom lag en ontspan oor die manewales van die Koekemoers. Die wetenskaplikes sê mos daar is niks wat ’n mens beter laat ontspan as lag nie,” sê hy.

My boetie se boetie se boetie se baba is te sien in die Atterbury-teater in Pretoria. Bespreek by Computicket deur 0861 915 8000 te skakel, of op die webwerf. Groepe van 10 of meer kry oudergewoonte afslag deur Lefra Produksies te skakel by 011 815 3000 of ‘n e-pos te stuur na [email protected]. Vir meer inligting besoek Lefra se webwerf of www.myboetie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.