[Foto’s] ‘Daa’ gaat die bruid!’ sal hele gesin laat lag

Daa' Gaat die Bruid. Foto: Verskaf

Daa’ Gaat die Bruid. Foto: Verskaf

Die klugkoning Frans Swart se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney en John Chapman se weghol-treffer, Daa’ gaat die bruid!, is vanjaar by die KKNK in Oudtshoorn van 24 tot 30 Maart te sien.

Die oorspronklike There goes the bride is een van Cooney en Chapman se mees suksesvolle West End-klugte tot op hede, en uittreksels vanuit die Londense resensies beskryf die klug as ongelooflik laf en snaaks.

Frans Swart, wat die regie behartig, sê hy is baie opgewonde oor Daa’ gaat die bruid! “Die lekkerte is dat hierdie klug nog nooit in Suid-Afrika opgevoer is nie, en dus ken niemand die storie of ontknoping nie.”

Daa’ gaat die bruid! vertel die storie van Judy (Debrè Rossouw) se troudag en om al die reëlings vir dié groot dag glad te laat verloop. Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus), gereed is om kerk toe te vertrek, kry haar pa, Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ’n advertensiemaatskappy, ’n hou op die kop en dan begin die poppe dans – letterlik!

Polly (Ana van Achterbergh), ’n pragtige meisie van een van sy advertensieveldtogte, kry lewe. ’n Seniele ouma (Marga van Rooy), ’n moeilike oupa (Lieb Bester), ’n verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder) en ’n flambojante assistent (Phillru van Achterbergh) wat op die verhoog aansluit, verseker lekkerlag-elemente.

“Ons almal weet dat die oggend voor ’n troue redelik chaoties is. Veral as Oupa en Ouma nog van Bela-Bela af kom, die blomme is nog nie daar nie, spyseniers is die hele huis vol, die bruid se rok is nie reg nie, en Pa is nog besig met ’n belangrike kontrak! Dis asof daar ’n vlaag energie in die produksie en in die gehore begin ontbrand wat wonderlik is. Dis so lekker as mense na my toe kom en sê hulle het hul asem weggelag,” het Swart gesê.

Daa’ gaat die bruid! spog met topakteurs soos Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh.

Dié produksie speel elke dag by die Johnny Bisschoff-saal. Bespreek jou kaartjies vir Daa’ gaat die bruid! nou by Computicket of skakel 086 1915 8000. Vir groepbesprekings en gasvryheidspakkette, skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.