Frank Opperman bring hulde aan onderwysers in ‘Donkie’

Frank Opperman (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Frank Opperman (59) se eenmanstuk Donkie wat tans by die Aardklop Nasionale Kunstefees opgevoer word, is ʼn huldeblyk aan die goeie onderwysers daar buite wat so ʼn groot invloed op kinders se lewe het.

Só sê Opperman wat die rol van mnr. Barry Swart, die skoolhoof van Hoërskool Hans Oosthuizen, ʼn voormalige model C-skool, in Donkie vertolk.

Opperman vertel aan Maroela Media dat hy sélf as kind in 11 skole was, en so die waarde van ʼn goeie onderwyser leer besef het.

“Ek kén van moeilike onderwysers en skoolhoofde. Ek het deur 11 skoolhoofde gegaan. Ek kom ook uit ʼn onderwysfamilie; ek ken van ʼn ma wat skool gee. Ek het ook self nog ʼn kind op skool wat volgende jaar hoërskool toe gaan, en boonop ʼn kleinkind wat oor ʼn jaar skool toe gaan.

“Skool is eintlik maar altyd deel van ʼn mens se lewe; dit is nie asof ʼn mens klaar is die dag wanneer jy matriek klaarmaak nie,” sê hy.

Donkie is deur Dana Snyman geskryf, en saam het Opperman en Snyman baie navorsing oor onderwysers en skoolhoofde gedoen voor die vertoning bymekaargekom het.

Frank Opperman as Mnr Barry Swart

“Hierdie stuk het lank gevat, langer as gewoonlik,” sê Opperman. “Dit het so lank gevat omdat dit eintlik so ʼn abstrakte ding is. Dit is eintlik waaroor die vertoning gaan; dat elke storie twee kante het. Daar is mense wat één manier voel, maar daar is altyd mense wat ʼn ander manier voel.”

Opperman sê hy wou waardering toon vir die onderwys en onderwysers wat probeer om hul werk goed te doen.

“Meer as 900 skoolhoofde het al na Donkie kom kyk, en hulle kom sê altyd hoe hulle dit waardeer. Hulle waardeer dit dat ʼn mens omgee oor wat hulle doen, want om ʼn onderwyser te wees, is maar ʼn verstote werk. Terwyl dit die mense is wat die hardste werk!” sê hy.

Opperman onthou ʼn wiskunde-onderwyser wat hy gehad het, wat volgens hom swak was in sy werk. “Die verskil tussen ʼn goeie en ʼn swak onderwyser het ek in my lewe gesien. Ek het ʼn E-gemiddeld in standaardgraad-wiskunde gekry weens ʼn swak onderwyser. Hy het ook al na my vertoning kom kyk en wou my blad skud agterna, maar ek het niks vir hom te sê nie.”

In Donkie speel die gehoor ook ʼn interaktiewe rol sáám met Opperman. Hy sê hy het tot dusver nog net goeie gehore gehad. “As hulle nie wil saamwerk nie, dan máák jy hulle saamwerk,” skerts hy.

Frank Opperman (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Al vyf vertonings van Donkie is reeds of byna uitverkoop by vanjaar se Aardklop-fees. Hy toer wel die land vol met dié geliefde teaterstuk.

Opperman is al 38 jaar lank deel van die Afrikaanse vermaakbedryf, en daar is min wat nie sy gesig ken nie. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy rol destyds as Ouboet in Orkney snork nie en meer onlangs as die verhoogpersona, Dominee Tienie.

Maar volgens Opperman is sy eerste liefde teater, en dít is hoekom hy so lank in die bedryf kan bly.

“Ek doen al so 16 jaar lank eenmanvertonings. Ek is mal daaroor; ek is op my eie en dit is hoe ek dit verkies,” sê hy.

Frank Opperman (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

“Televisie is lekker en ek hou daarvan, maar daar is geen vergelyking met toneelspel nie. Dit is die régte ding dié. Ek hou van die uitdaging wat dit bring. Wanneer jy televisie doen, kan jy ʼn skoot 20 keer oordoen, maar op die verhoog het jy net een kans. Ek hou van daardie soort adrenalien – dit is net anders,” sê hy.

Opperman sê hy probeer homself aanhoudend as kunstenaar herskep, met nuwe karakters en uitdagings, omdat dit mense geïnteresseerd hou. Hy het Donkie al sowat 75 keer opgevoer en dit is nou reeds tweede natuur vir hom om in mnr. Barry Swart se skoene te staan.

“Gelukkig is ek nou op ʼn plek waar mense darem opdaag vir my vertonings. Mense weet nou al as dit ʼn Frank-en-Dana-stuk is, is dit die moeite werd. Maar dit kom ná jare lange harde werk,” skerts hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae