Frank Opperman sit avonture voort in ‘Steeds Donkie’

Frank Opperman speel die rol van mnr. Swart in die eenmanstuk ‘Steeds Donkie’ (Foto: Verskaf)

In Steeds Donkie, wat op die gewilde eenmanstuk Donkie volg, sit Frank Opperman die avonture van mnr. Swart voort. Steeds Donkie word op 25 Oktober by die Atterbury-teater aangebied en wys op 1 November in Potchefstroom.

Mnr. Swart, beter bekend as “Donkie”, is die skoolhoof van Hoërskool Hans Oosthuizen. Sy goeie bedoelings ten spyt is hy reeds effe suf geslaan en gebombardeer.

Tydens Maandagoggend se saalopening moet hy boonop etlike nuwe uitdagings hanteer. Leerders se akademiese standaard het tydens die Covid-19-pandemie geweldig agteruitgegaan, onderwysers se moed lê laag in hulle skoene en die beheerliggaam is geensins tevrede met sy hantering van die Black Lives Matter-beweging nie. Ten minste is hordes eksemplare van die skool se 80-jarige herdenkingsboek darem gedruk.

Die teks is deur Dana Snyman geskryf en Gerrit Schoonhoven het die regie behartig. Die produksie word deur Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied.

Kaartjies vir die Atterbury-teater se vertonings is R180 en aanlyn op iTickets beskikbaar. Die produksie word twee keer aangebied. Die eerste vertoning begin 12:00 en ʼn tweede vertoning vind 16:00 plaas.

Teaterveiligheid en protokol

Die Atterbury-teater het bepaalde maatreëls ingestel wat aan Covid-19-regulasies voldoen. Dit behels die volgende:

  • Sitplekke word twee-twee volgens veiligheidsmaatreëls beskikbaar gestel.
  • Nie meer as twee gehoorlede mag langs mekaar sit nie.
  • Net beperkte sitplekke beskikbaar (50% kapasiteit).
  • Maksimum spasie word tussen gevulde sitplekke oopgehou.
  • Die dra van ʼn masker is verpligtend.
  • Alle gehoorlede se temperatuur word by aankoms geneem.
  • Intekenvorm moet voltooi word.
  • Maak seker jy is betyds om die vorm in te vul. Die teater maak ʼn uur voor die vertoning oop.
  • Handreiniger is in die voorportaal beskikbaar.
  • Kunstenaars sal nie ná die vertoning foto’s kan neem of handelsware teken nie.
  • Kaartjies kan slegs aanlyn gekoop word.

Volg Aardklop Nasionale Kunstefees se Facebook-blad vir meer inligting oor Steeds Donkie se vertonings wat op 1 November in Potchefstroom aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.