‘Gebruik die woede van ontnugtering as heilige vuur’

Rehane Abrahams in Brandbaar. (Foto: Verskaf)

’n Toneelstuk oor kolonialisme, rassisme en seksisme, speel tydens die Vryheidsdag-week in die Kunstekaap-teater as deel van die Suidoosterfees – hier waar alle kulture en tale welkom is. Maar as ons dan só ver gekom het, hoekom is toneelstukke soos hierdie nog nodig, vra Maryke Roberts vir Rehane Abrahams op die vooraand van nog ’n vryheidsviering  – Jeugdag.

Die geklingel van slotmasjiene raak amper oorverdowend, terwyl die liggies draai en Rehane suggestief – maar ingedagte – om ’n paal dans. Die tekens wat teatergangers tydens Covid ver uitmekaar hou, kondig die teater se 50ste verjaardag aan. Die ou Nico Malan is sedert demokrasie mos die Kunstekaap-teater herdoop en hier is almal se stories welkom. So anders as die storie van uitsluiting wat hom nou op die verhoog afspeel.

Op ’n stoel sit Lukhanyiso Skosana en sing ’n wiegeliedjie, maar daar is onderliggende onheil in die klank.

Rehane dans met ’n wit pruik en hoë hake; die hooploosheid van ’n ontkleedanser se vasgekeerdheid maak ’n beklemming om jou hart. Later in hierdie berig, kom ek terug na hierdie verwysing.

Die storie ontvou. Womb of Fire, nou in Afrikaans, het drie Woordtrofees en twee Fleur du Caps gewen. Dit verweef die verhale van twee vroue in die Kaapkolonie se beginjare: Grote Katrijn van Pulicat, Indië (1681-1683), wat as slaaf in die Kaap aangekom het, haar reis van Indië deur Batavia; en die Khoekhoen-dienskneg Zara wat aan die VOC se verkeerde kant beland en postuum deur die VOC swaar gestraf word omdat sy die sonde van selfmoord begaan het.

Dié wenstuk pak kolonialisme teen die epiese agtergrond van ’n episode uit die Sanskrit-teks The Mahabharata. Die derde karakter in die storie is uit hierdie teks en stel Draupadi voor. Sy word in die oorspronklike teks in ’n boogskietkompetisie aan ’n toekomstige bruidegom uitgeveil en wanneer die wenner, Yudhishthira, tuiskom, sê sy ma hulle moet die bruid gelyk verdeel. Sy word dus gelyktydig almal se vrou. Een van haar mans verloor haar in ’n dobbelwedstryd en sy word voor ’n groep mans geparadeer en van haar sari beroof.

Die vroue se storie begin. Daar is sêgoed wat jou hart yskoud maak: “volgens ou gewoontes, ’n transaksie tussen mans” waar vroue verkoop word aan ou, grillerige mans en soos objekte behandel word. Daar is beskrywings soos “my ma val uit my uit, werwel vir werwel” wat die onskuld van ’n jong meisiekind wat van haar ma weggeruk word, só hartverskeurend opsom.

Die wiegelied word ’n oerkreet; ’n rouklaag, wat verdof tot ’n murmurering. Rehane dra eers ’n blou pruik, dan is sy in ’n korset. ’n Stuk wit materiaal word ook deurgaans gebruik.

‘n Toneel uit “Brandbaar”. (Foto: Verskaf)

Al drie vroue in die storie word seksueel uitgebuit. Die stuk verbind die ooreenkoms tussen die setlaar se kolonialisering (steel) van die voormense van Afrika se grond en die kolonialisering (steel) van vroulike liggame. Deur die vroulike liggaam as vertrekpunt van weerstand te gebruik, daag die stuk die voortgesette uitbuiting en diefstal uit.

Womb of Fire/Brandbaar word deur dr. Sara Matchett geregisseer. Die konsep is beide hare en Rehane s’n, wat ook die teks geskryf het. Jason Jacobs en Rehane het saam die vertaling uit Engels aangepak. Die treffende stel- en kostuumontwerp is deur Craig Leo en Sara behartig.

Die stuk is vervaardig deur The MotherTongue Project, waarvan Rehane en Sara medestigters is. Die projek het verlede jaar sy 20ste verjaardag gevier. Hul eerste projek was What the Water Gave Me, 17 jaar gelede. Rehane het ook saam met Sara navorsing gedoen vir Sara se doktorsgraad.

Rehane het by die Universiteit van Kaapstad, ISI (Art Institute Indonesia) in Surakarta en by Min Tanaka se Body Weather Farm studeer. Sy werk al vir meer as twee dekades as aktrise. Lesers sal haar tans sien as die booswig, Wendy Newman, in die telenovelle, Arendsvlei. Haar rolle in Brandbaar is myle ver van haar rol as Wendy, wat ander onderdruk en vermoor as hulle haar teëgaan.

Rehane het vir 11 jaar in Indonesië gewoon en gewerk. Sy het klassieke Javanese dans bestudeer; as kunstenaar in openbare plekke en galerye opgetree; solovertonings gehou; twee teatermaatskappye op die been gebring en ’n opleidingsmaatskappy vir jong kunstenaars gestig. Sy was omtrent besig!

“Brandbaar”. (Foto: Verskaf)

Rehane is die bekroonde sjef en kookboekskrywer, Cass Abrahams se dogter en ondersoek haar eie slawe-agtergrond met dié stuk. Haar voorvaders het Khoekhoen, Indonesiese-, Europese- en Suid- Indiese oorsprong. Sara is van Hollandse-, Ierse-, Skotse- en Britse afkoms. Die een het ’n geskiedenis as ’n verdrukte; die ander as ’n verdrukker.

Behalwe dat die kort verduideliking oor die teks in die feesprogram, wat sê dat rassisme, seksisme, koloniale onderdrukking in kulturele lyf is, is die verhoogstuk meer as ’n mondvol en jy moet fokus om by te bly.

Die tema van vryheid wat buite in die strate gevier word, vervaag gou soos die woorde jou vol in die maag tref.

Ek kan nie help om weer ‘n vorige dag se bespreking waar prof. Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer en Susan Booyens, joernalis en televisie-aanbieder onder meer bespreek het dat Suid-Afrika nou deel is van die “27 Club” van die wêreld nie.

“Ons is hungover, dronk geparty en neem geen verantwoordelikheid nie. Suid-Afrika moet nou ingaan vir rehab en oor begin. Die jeug is grootoog en verwilderd, want die vryheid en demokrasie wat hulle beloof is, is nog nêrens te sien in hul arm woonbuurte en met korrupsie oral nie.”

Die 27 Club is ’n lys internasionale bekendes wat op 27-jarige ouderdom dood is. Maar meeste van hulle is dood van vergryp of geweld. Roekeloosheid en min respek vir ander en hul eie lewens. En dan is dit wat op die verhoog afspeel, nie meer só ver verwyderd nie: seksisme, rassisme, kolonialisme het dalk net in 2021 ’n ander baadjie, maar die inhoud is nog dieselfde.

Dis ’n maand ná die vertoning wat ek Rehane kan nader om nabetragting; uitvra oor die stuk; die proses en die boodskap.

Rehane verduidelik dat Brandbaar dié drie vroue se verhale gebruik om saam met mites en persoonlike stories, die “baarmoeder van vuur” wat aan Suid-Afrika geboorte geskenk het, te ondervra. (Foto: Verskaf)

Rehane verduidelik dat Brandbaar dié drie vroue se verhale gebruik om saam met mites en persoonlike stories, die “baarmoeder van vuur” wat aan Suid-Afrika geboorte geskenk het, te ondervra. Sy sê sy en Sara is baie dankbaar vir die navorser, Mansell Upham, wat sy navorsing oor die eerste 50 jaar aan die Kaap, met hulle gedeel het.

Maar sy help my gou reg oor my ervaring van “die hooploosheid van ’n ontkleedanser se vasgekeerdheid” waarna ek in die begin van my berig verwys.

“Hierdie is jou vertolking. Dit was nie die bedoeling nie. Die regisseur het besluit om hierdie beeld te gebruik, om die gehoor oor die ontkleepaal-element van die vertoning te lei en ook as kontras te dien vir dit wat nog kom.

“Ek is pro-sekswerk en pro-wetgewing vir sekswerk. Ek herken dat paaldans van sekswerkers kom en skat hul bydrae tot kultuur en die samelewing na waarde. Ek is nie ten gunste van negatiewe stereotipes en die woord ‘slet’ as naambeswaddering nie.

“Vir my as kunstenaar was die paal die verveling van geld bedel by organisasies wat van ons steel en ons hekwag, soos onder meer Kunstekaap en sy allemintige regeringsbegroting wat bykans nooit by die kunstenaars uitkom nie – om nie eens die NAC of die SABC (en die eindelose lys name) – te noem nie.”

Rehane het die Institute for Creative Arts se digitale beurs ontvang en dit het as katalisator gedien vir haar navorsing in die volgende fase van haar optreeloopbaan. Omdat sy tydens inperking nie die toneelstuk kon opvoer nie, het sy begin kyk hoe die toneelstuk se oogmerk om die kunstenaar se liggaam te dekolonialiseer, in ’n wyer konteks metodologie kan beteken.

“Dit het my gelei na kulturele somatika – ’n konsep wat deur Resmaa Menakem en Tada Hozumi ontwikkel is. Volgens hulle is kulture eintlik liggame wat uit ’n netwerk verhoudings ontstaan.  Binne hierdie model word verstaan dat onderdrukking soos rassisme en seksisme as uitdrukking van trauma in kulturele somas of lywe voorkom. Die werk wat kulturele somatika verrig, is die fasilitering van die gedeelde heling in individuele en kulturele liggame.

Rehane sê sy het haar eie liggaam as beginpunt gebruik en toe die spesifieke fisiologiese uitwerking van rassisme, seksisme en koloniale trauma gaan navors. Dis ’n volgehoue proses vir haar – die tema van haar lewenslange kunstoepassing. Die idees word net mettertyd verfyn.

“Mens kan amper sê dis die toepassing van vryheid,” vertel sy.

Womb of Fire is in 2017 vir die eerste keer by die National Arts Festival op Grahamstad opgevoer en later ook by die Baxter-teater, die ICA, Woordfees, Vryfees in Bloemfontein, Universiteit van Johannesburg, Afrovibes in Nederland, die International Theatre Festival of Kerala in Indië en nou die Suidoosterfees.

Rehane sê die toneelstuk is fisies uitputtend. (Foto: Verskaf)

Die stuk is fisiek uitputtend. Sy swaai aan ’n paal, val op die grond, hardloop. Haar liggaam word nie sagkens hanteer nie. Rehane sê: “My lyf hou! Die beserings wat ek wel van tyd tot tyd opdoen, is omdat ek lui raak en dinge nie reg uitvoer nie. Ek is so dankbaar jeens my liggaam vir sy volgehoue ondersteuning van al die malligheid wat ek van hom vra.

“Maar soms dink ek: dis jý lyf, dis wat jý wil hê. As dit bloot my verstand was, sou ek eerder op die bank wou lê en lees of flieks kyk. Dis die liggaam wat wil voel en klim en strek.”

Sy sê ook elke vertoning gee haar krag as vrou.

Ek vra haar oor demokrasie; hierdie idee dat ons Vryheidsdag vier en waar stories soos hierdie in dié prentjie inpas.

“Demokrasie het nie soos een groot wonderwerk gekom en ons almal kom geneem soos die rooi pil in die Matrix-rolprent nie. Ons moet steeds werk om onsself en ander te bevry. Hierdie stories is afrekening – met die geweld en trauma wat ons almal dra. Sara, my liewe vriendin en regisseur, het uitgevind dat een van haar voorvaders ’n slawe-eienaar was. Sy moet leef met wat dit beteken om daardie tipe geweld in haar bloedlyn te dra – hoe sy daaroor voel, hoe sy daarmee afreken, hoe sy ’n vegter vir vryheid en die waarheid word.”

Rehane voeg by dat die stryd voortduur – dis globaal, dis ekologies en dis inmekaar verweef.

“Die feit dat minerale van Marikana gebruik gaan word om NASA-onderdele te maak wat op die maan gebruik gaan word in mynbedrywighede, is hoe inmekaar verweef uitbuiting, kolonialisme en die volgehoue geweld is. Dis die goue lyn wat welvaart onderskryf.

“Op plaaslike vlak kan jy net om jou kyk na die pyn en lyding van ander – in plaas van om al die advertensies vir Mzansi Magic te glo!”

Watter boodskap sy by die teaterganger wil los, is ’n verlengstuk hiervan.

“Dat mense in hul wese met hierdie oorsprongverhaal ’n verbintenis voel – as die storie wat hulle gevorm het.”

“Brandbaar” (Foto: Verskaf)

Rehane verwys na Ben Okri wat sê die mense is uit stories gemaak nie, atome nie.

“Grote Kathryn se afstammelinge het die vertoning by die Woordfees kom kyk. Hulle is almal wit mense nou en hulle was mal daaroor! Hulle het nie geweet hoe sy hier beland het nie; dat sy in Batavia verhoor is; gevonnis om teen ’n paal verwurg te word omdat sy haar kêrel in selfverdediging vermoor het omdat hy haar verkrag het nie. So ja, hierdie is ’n stammoeder vir die moderne Suid-Afrika.

Gehore se ervaring en terugvoering verskil hemelsbreed en sy is mal hieroor, vertel sy.

“Dit was baie interessant om te sien hoe Indiese gehore by die storie aanklank vind en dele daarvan as hul eie geëien het. Ook hoe baie Nederlanders dit afgemaak het as apartheid se skuld en nie hul eie storie nie. Komaan, waar het die geld vir die Nederlanders se Goue Era vandaan gekom as dit nie van die mensehandel en slawearbeid was nie? Asseblief!”

As die teks ’n mondvol vir die teaterganger is, moet dit baie verg om kop te hou met die dialoog en verskeie karakters wat inmekaar geweef is. Rehane gee hier al die krediet aan Sara.

“Sy is ’n ongelooflike regisseur. En ons het die toneelstuk nou al genoeg gedoen dat dit in my lyf is,” vertel sy.

En voor ons groet, wonder ek of sy as vrou kwaad en ontnugter is in hierdie vrye Suid-Afrika?

“Iemand het op ’n slag vir my gesê ontnugtering is die verwydering van die illusie – so ja, ek is ontnugter, maar ek het ook geleer liefhê met ’n gebreekte hart. En sover dit woede aangaan: woede is die petroleum wat ons help om dinge te verander.  So ek bepleit – veral vir myself – die korrekte gebruik van woede om dit as heilige vuur te sien!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.