Gróót produksies by vanjaar se KKNK

Antoinette Kellermann in Die Huis van Bernarda Alba. Foto: Verskaf

Antoinette Kellermann in Die Huis van Bernarda Alba. Foto: Verskaf

Verskeie unieke produksies beloof om ʼn groot trekpleister vir vanjaar se KKNK in Oudtshoorn te wees, wanneer dié fees van 24 tot 30 Maart gehou word.

Vir dié wie se broeke nie sommer bewe nie, is daar vanjaar ʼn sielkundige riller genaamd Kul op die planke. Dit speel af op ʼn stormagtige aand op die platteland by ʼn inrigting vir geestesversteurdes en gewelddadige moordenaars. ʼn Skrywer daag op om ʼn onderhoud met ʼn reeksmoordenaar te voer. Die veteraan-akteur Tobie Cronjé, Nicola Hanekom en Wilhelm van der Walt sal jou meevoer en op die punt van jou sitplek hou.

Die bekroonde aktrise Antoinette Kellerman vertolk die rol van die stoere matriarg Bernarda Alba in Die Huis Van Bernarda Alba, wat na die dood van haar tweede man haarself ʼn vonnis van rou oplê. Haar dogters sal vir jare agter slot en grendel leef, maar in dié versmorende hitte broei ʼn rebellie uit. Dawid Minnaar, Lida Botha en Cintaine Schutte sluit onder meer by Kellermann aan in hierdie produksie.

Die drama Nagwandelaars, met Geon Nel, Carel Nel en Lanel van der Kolff, is ʼn moderne aanbieding van C.J. Langenhoven se spookstories en is daagliks by Die Spookhuis te sien. Die lyne tussen realiteit en verbeelding vervaag en daar is ʼn moontlikheid vir die ontwaking van die geeste.

Hennie van Greunen behartig die regie van Pa, ʼn debuutdrama met Chris van Niekerk in die hoofrol, saam met onder meer Milan Murray, Stian Bam en Ira Blankenberg. “Net soos jou pa is André om die beurt skreeusnaaks, vurig, sjarmant en uiteindelik broos,” vertel Van Greunen. Dié Florian Zeller-treffer, Le Père (The Father), kry lewe in Afrikaans.

Gehore het die seldsame voorreg om werke van die Nobelpryswenner, Samuel Beckett, te sien in Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett. Dié opwindende konsep span vyf regisseurs en vier akteurs (Gerben Kamper, Nicole Holm, Albert Pretorius en Llandi Beeslaar) in, wat agt van Beckett se bekendste kort dramas in Afrikaans aanbied. Die produksie beloof om vol humor en nostalgie te wees. Willem Anker het die vertaling behartig.

Daar is ook vele musiekhoogtepunte om van te kies en keur. Die musiekblyspel, Heidi, sal jou na jou kinderjare laat verlang, met Karli Heine as Heidi en akteurs soos Dawid Minnaar, Tobie Cronjé, Albert Maritz en Ilse Klink in die ander rolle. Die musiek is gekomponeer deur Mynie Grové. In die Zoid Afrika Afskopkonsert bring Karen Zoid, Francois van Coke, Anneli van Rooyen, Kahn Morbee en Corlea Botha ʼn meesleurende mengsel van melodieë met ou en nuwe treffers na die fees.

Die feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.