Hoërskole kan nou inskryf vir dramafees

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Angel Origgi/Unsplash)

Hoërskole wat vanjaar aan die Kunstekaap-teater en die Suidoosterfees se dramafees wil deelneem, kan nou aansoek doen.

Dié fees bied jaarliks aan leerders van skoledramagroepe die geleentheid om hul talent op Kunstekaap se verhoog ten toon te stel.

Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, sê dat hierdie kompetisie ook vir jong kunstenaars die geleentheid bied om eerstehands te ervaar hoe ʼn professionele teater binne die konteks van ʼn kunstefees werk.

Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas is in 2021 as die wenners aangewys met Neer daal die reën. Skoledramagroepe wat verlede jaar in dié gesogte kompetisie meegeding het, het produksies in Afrikaans, Engels en Xhosa ingeskryf.

Ander skole wat ook deelgeneem het, sluit in Worcester se De la Bat-skool vir Dowes met ʼn verwerking van Antony & Cleopatra, Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met Om teen treine te skree en die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester met Detensie.

Om deel te neem moet skole ʼn produksie van 30 tot 60 minute voorlê wat handel oor sosiale uitdagings waarmee hedendaagse skoliere te doen kry.

“Teater was nog altyd die ideale plek waar kommentaar oor belangrike kwessies gelewer kan word,” meen Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap.

Die top-inskrywings sal van 15 tot 20 Oktober in die Arena van die Kunstekaap-teater vir finale beoordeling opgevoer word. Die algehele wenners sal genooi word vir ʼn speelvak van hul produksie tydens die Suidoosterfees wat in 2023 plaasvind. Pryse is ook op die spel vir die beste akteur, regisseur en skrywer, en wenner-akteurs gaan ʼn gas-verskyning in die kykNET-sepie Suidooster maak.

ʼn Uittreksel van die toneelstuk moet as ʼn oudisievideo van tien minute voorsien word. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 20 Mei. Vir meer inligting en om inskrywingsvorms te kry, stuur e-pos na Tania Williams-Kaponda by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.