‘Huishou’ ʼn juweel op Aardklop

In die Aardklop-debuutproduksie Huishou is Dirkie (Nadia Valvekens) en Hester (Cintaine Schutte) ʼn egpaar wat op die punt is om ʼn kind aan te neem.

Dirkie, wat veel ouer is as Hester, dring daarop aan dat dit ʼn swart kind moet wees. Hester is egter onseker oor die verandering wat die kind in hulle lewens gaan bring en sukkel om dié gevoelens teenoor Dirkie uit te druk.

Daarteenoor is Dirkie so verknog aan die idee van ʼn baba in die huis dat sy Hester se bekommernisse onder die mat probeer invee deur haar te oortuig dat die baba nét goed vir hulle en hul huwelik sal wees.

Wanneer Hester se ma skielik sterf en sy moet terugkeer na die grootworddorpie wat sy jare tevore onder ʼn donker wolk verlaat het, oorval die nostalgie haar en worstel sy skielik met vrae oor haar eie identiteit en wortels. Dit alles terwyl Dirkie droom van ʼn gesinslewe met ʼn huis, ʼn swembad en kaggel, alles wat Hester bang maak.

Die regie is behartig deur Nico Scheepers en die teks is geskryf deur Philip Rademeyer. Dit raak aan gewigtige temas soos homofobie, godsdiens en “white guilt”, maar sorg darem ook vir ʼn paar komiese oomblikke waar die gehoor kan asemskep. Die klankbaan pas uitstekend by die stuk.

Schutte en Valvekens lewer albei uitmuntende spel. Al is dit nie ʼn tema waarby almal noodwendig sal aanklank vind nie, is die emosie en toneelspel só rou en geloofwaardig dat dit steeds die moeite werd is om dié toneelstuk te sien.

Huishou is nog Vrydag en Saterdag te sien op die Aardklop Nasionale Kunstefees. Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Steven ·

By verreweg, die beste produksie by Aardklop! ‘n MOET sien!

N Lourens Reitz ·

Steven-dit raak aan gewigtige temas soos “white guilt” verduidelik dit vir my asb?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.