Huldigingsproduksie maak skoonskip by Kanna-pryse

Die wenners van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se gesogte Kanna-pryse is Vrydagaand in Kaapstad bekend gemaak en die huldigingsproduksie aan die ontslape Pieter Fourie, Ek, Anna van Wyk, het skoonskip gemaak.

Dié dramaproduksie het met vyf Kannas weggestap. Dit sluit in die Kanna-prys vir beste teateraanbieding én regie, ontwerp (Marthinus Basson), aktrise (Tinarie van Wyk Loots) en mansbyspeler (Carlo Daniels).

Die oerkluts kwyt, die produksie wat die 70ste verjaardag van Antoinette Kellermann en Antjie Krog gevier het, is met twee Kannas vereer: vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vrouebyspeler (Ancient Voices).

Karatara, ’n uitsonderlike multidissiplinêre dansproduksie en roerende blik op die uitwerking en gevolge van die Knysna-brande in 2018, het die prys vir beste debuutdrama ontvang.

Die akteur Wessel Pretorius is as beste akteur aangewys vir sy spel in die Baxter-teater se produksie, Kiss of the Spider Woman.

Dít terwyl die Absa Kanna vir bydrae tot visuele kuns toegeken is aan Karin Preller vir haar uitstalling Beyond Memory.

’n Nuwe konsepteaterprojek, Lucky Pakkie-teater – kort stukke in verskillende dissiplines wat deur ’n verskeidenheid van opkomende en meer gevestigde kunstenaars as verrassingspakkette aangebied is – is tydens vanjaar se KKNK met groot opwinding deur feesgehore ontvang. Om skoon te wees, geskryf deur Adriaan Havenga, met Havenga en Conradie van Heerden in die rolverdeling, is aangewys as die beste stuk van dié projek.

Tinarie van Wyk Loots. (Foto: Verskaf)

Mirinda Ntantiso is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir haar spel in Op hierie dag, ’n teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Oudtshoorn-gefokusde projek, Karoo Kaarte, aangebied is.

Karoo Kaarte het ook die Herrie-prys ontvang. Dié prys word jaarliks aan ’n individu, projek of produksie deur die paneel toegeken vir grensverskuiwende werk wat feesgangers laat gons het. Karoo Kaarte is ’n multidissiplinêre kunsteprojek wat deurlopend in Oudtshoorn deur die kunste en spesifieke prosesse ’n verskil in en maatskaplike uitwerking op die dorp en streek bewerkstellig. Die projek, onder leiding van Neil Coppen en Vaughn Sadie, fokus ook op vaardigheidsontwikkeling en langtermyn-werkskepping.

Emo Adams & Take Note is as beste musiekproduksie vereer.

Die Kanna-pryse is ’n toekenningsgeleentheid wat tradisioneel ná afloop van die KKNK-fees erkenning gee aan uitsonderlike kreatiewe bydraes tydens die fees.

Vanjaar se onafhanklike Kanna-paneel, met Rafiek Mammon as sameroeper, het Gary Naidoo, Laetitia Pople, Diane de Beer, Alby Michaels, Marguerite Robinson en Robyn van de Rhede ingesluit.

Antoinette Kellermann in ‘die oerkluts kwyt’. (Foto: KKNK/Facebook)

“Ek is amper te bang om te sê ‘geluk’ en ‘welgedaan’ aan nét die wenners,” sê Mammon nou.

“Ek wil liewer praat oor hoe ’n enorme taak dit was om by die kortlys van benoemdes uit te kom, aangesien die gehalte van die werk so goed is! Dít is maar waaroor dit gaan – die gehalte van die werk wat kunstenaars en teatermakers vir vanjaar se KKNK gelewer het. Dis asof twee jaar van grendeltydperke en Covid-19 almal aangemoedig het om beter en sterker daaruit te kom, met ’n duidelike hongerte en begeerte om goeie teater te wil maak.”

Daar is reeds met die beplanning vir die 27ste KKNK in Oudtshoorn begin. Feesgangers kan na verwagting vanaf 1 tot 9 April 2023 na Oudtshoorn opruk.

Die volledige lys van Kannawenners is:

Kanna Slurpie-prys: opkomende kunstenaar (geborg deur Ton en Anet Vosloo)

Mirinda Ntantiso vir spel in Op hierie dag

Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns (geborg deur Absa)

Karin Preller vir die uitstalling Beyond Memory

Kanna vir beste byspeler: man

Carlo Daniels – Ek, Anna van Wyk

Kanna vir beste byspeler: vrou

Ancient Voices: Nomapostile Nyiki en Lungiswa Plaatjies – die oerkluts kwyt

Kanna vir beste akteur: man

Wessel Pretorius – Kiss of the Spider Woman

Kanna vir beste akteur: vrou

Tinarie van Wyk Loots – Ek, Anna van Wyk

Kanna vir beste regie (geborg deur Netwerk24)

Marthinus Basson – Ek, Anna van Wyk

Kanna vir beste teaterontwerp

Marthinus Basson – Ek, Anna van Wyk

Kanna vir uitnemende literêre bydrae (geborg deur NATi)

Frieda van den Heever vir die samestelling van die oerkluts kwyt uit die werk van Antjie Krog

Kanna vir beste kinderteater

Liewe Heksie en die rolskaatse

Kanna vir beste Lucky Pakkie-aanbieding

Om skoon te wees

Kanna vir beste debuutwerk (geborg deur ATKV)

Karatara

Kanna vir beste teateraanbieding (geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds)

Ek, Anna van Wyk

Kanna vir beste musiekaanbieding (geborg deur Wicus Pretorius)

Emo Adams & Take Note

Kanna Herrie-prys (geborg deur die Oudtshoorn Sakekamer)

Karoo Kaarte

Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK (geborg deur Kunste Onbeperk)

Danie Maart

Kanna vir tegniese uitnemendheid en diens aan die KKNK (geborg deur Alert Patrol)

Braam Avenant

Spesiale prys vir opkomende tegniese talent (geborg deur Beans About Coffee)

Clayton Carlson

Kanna vir tegniese bydrae tot die kunste (geborg deur die Kunste Onbeperk)

Jeanne Steenkamp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.