‘Humor beskerm my’ sê Marion Holm

Marion Holm. (Foto: Robert Hamblin/Marion Holm)

Om na jou asem te snak en die trane af te vee terwyl jy jouself ʼn papie lag, klink presies soos ʼn ervaring wat jy in ʼn Marion Holm-vertoning sal hê. Dié koningin van komedie het egter ʼn stil, teruggetrokke kant en gebruik haar skerp sin vir humor dikwels as ʼn skild.

Komediante is ysberge, vertel Marion aan Maroela Media, dit wat jy sien is nooit die volle prentjie nie. Van bo af word die mooiste bergpiek gesien, maar net onder die oppervlakte skuil ʼn reusagtige rots gekap uit die diepste, donkerste en dikwels hartseerste ys.

“Mense wat snaaks is, en wie se snaaks wees so reg uit hul siele kom, gebruik humor dikwels as ʼn skild,” sê sy.

Sy erken dat dit jare geneem het om ten volle gemaklik te raak met die feit dat sy eintlik veronderstel is om mense te laat lag.

Marion was beslis nie die grootste grapjas op skool nie, sy was ʼn stil en teruggetrokke kind wat haarself boeglam geskrik het vir enigiemand wat haar raakgesien het. Haar skerp, humoristiese tong het tog hier en daar in haar grootwordjare geklap, sê sy, maar dit was bloot as beskermingsmeganisme. En so het humor haar skild geword, altyd byderhand en altyd getrou.

Tog weet sy vandag dat dié skild van humor haar grootste bate is, want as daar een ding is wat die mens nie genoeg van kan kry nie, is dit om te lag.

Lag meer as vantevore

“Daar word wetenskaplike en fisiologiese waarde aan lag geheg. Van jou immuniteit tot jou geestesgesondheid verbeter wanneer jy gereeld lag,” sê sy. “Ek gee nie om na watter komedie jy gaan kyk nie, maar nou is die tyd om dit te doen.”

Hoewel Suid-Afrikaners dikwels vir hulself en die omstandighede waarin hulle hulself bevind lag, word dit deesdae al hoe moeiliker om nie ʼn traan saam met die lag te pink nie.

(Foto: [email protected]/Marion Holm)

Mense is in die donker van beurtkrag en alomteenwoordige misdaad gedompel, en humor, glo Marion, is een van die min dinge wat werklik troos bied.

“Beurtkrag het ʼn emosionele impak waaroor ons nie wil praat nie, die misdaad het ʼn invloed op ons gemoed. Ons moet met al daardie goed deal.

“Ons was nog altyd ʼn nasie wat kon lag, veral vir ons self. Daar is op die oomblik so min vir ons om oor te lag en ons nerwe is so fyn geskuur, dat ons ʼn bietjie moet hulp inroep vir ander mense om ons te laat lag. Ons moet eenvoudig na onsself begin kyk.”

Dit is ook juis waarom Marion mense aanmoedig om teater in geheel te ervaar, van die diepste, swaarste dramas tot lighartige, opbeurende komedies.

“Die teaterlandskap het alles nodig om dit volrond te maak. Daar is nie meer plek vir elitisme nie.”

Lag is die lewe se beste pleister

Of dit goed of sleg gaan, teater moet voortgaan. Marion moes telkemale in haar lewe, te midde van diep persoonlike hartseer, die verhoog betree om mense te vermaak. Selfs toe haar ouers dood is, moes sy haar persoonlike lewe opsy skuif om op te tree.

Plakkaatfoto vir “Holmakiesie”. (Foto: Marion Holm)

Tog berou sy nie die humoristiese oomblikke in tye van haar hartseer nie. Trouens, dit was juis haar getroue humorskild wat haar daardeur gedra het.

“Elke sport het sy beserings, dit is nou maar ons sʼn. Om te laat lag, is vir my ʼn voorreg en ʼn vreugde,” sê sy.

Marion ly aan die outo-immuunsiekte fibromialgie, wat veroorsaak dat sy dikwels dae aaneen verskriklike liggaamspyn ervaar. Tog hinder haar pyn haar nie. Sy hoort op die verhoog, te midde van ʼn gehoor wie se skaterlag reg rondom haar weerklink.

“As ek ryk was en net in my bed gebly het sonder om te werk, sou ek ongelooflik depressief geraak het. Ek móét opstaan, ek móét op die verhoog wees, want binne vyf minute het daardie gehoor vir my soveel vreugde gegee dat ek net kan sê ‘dankie liewe Vader dat ek moes opstaan vandag’.”

Marion Holm met ‘Marion Holm’

Marion het vroeër vandeesmaand ʼn draai by Momentum Beleggings Aardklop met haar solostuk, Marion Holm, gemaak.

Dié stuk is eintlik destyds in 2020 reeds geskryf, maar dit het eers onlangs werklik die lig begin sien. Dit was aanvanklik ʼn stuk wat dieper gedelf het in wie Marion is, en waarom sy vandag die grapjas is waarvoor Suid-Afrikaners so lief is. Die koms van die Covid-19-pandemie het haar planne om die vertoning by die KKNK te debuteer egter in die wiele gery.

(Foto: Robert Hamblin/Marion Holm)

Sy erken dat sy in daardie tydperk in ʼn swart put verval het, en dat een ding vir haar kristalhelder geword het: Humor is al wat mense nou nodig het.

Kort daarna het Holmruggery, ʼn samestelling van 16 jaar se vertonings, die planke getref voordat sy weer aan Marion Holm begin skaaf het. Dié vertoning is tot so ʼn mate geskaaf en geskuur dat alle donker, dieper dele in die slag gebly het.

“Jy sien altyd net een deel van my, but there’s more. Hier is een kant van die storie – dit is baie snaaks, en dan ʼn ander kant wat nou nie so snaaks is nie. Maar dit is ook ek.

“Nou het ek daardie stukkies weggevat, maar ek noem die vertoning steeds Marion Holm sodat ek kan onthou wat die stuk se naam is – ek vergeet mos van alles,” sê sy haar kenmerkende skertsende wyse.

Tuis in haar eie geselskap

Hoewel Marion vandag geken word as ʼn komediant wat mense sonder moeite laat skaterlag, erken sy dat daar dele van haar grootwordjare is wat haar tog bygebly het.

Marion Holm as kind. (Foto: Marion Holm)

In vele hoedanighede is sy maar steeds daardie jong dogtertjie wat na stilte en rustigheid smag. Sy weet vandag dat sy geskep is om mense te laat lag, maar ook dat sy heeltemal tevrede daarmee is om in die stilte van haar eie gedagtes te verkeer.

Vir haar is komedie allermins ingewikkeld, daar is tog min dinge in die lewe wat so natuurlik vloei soos ʼn groep mense wat heerlik saam skaterlag.

“Ek sit nie en ontwerp die wêreld se indrukwekkendste atoombom nie. Ek laat jou net lag. Wat ʼn voorreg is dit nie?”

  • Vir meer inligting oor waar Marion Holm volgende te siene is, besoek haar webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.