Humoristiese sketse bekyk vrouwees op Woordfees

Maude Sandham is te sien in ‘Kort Onderhoude met Aaklige Hekse’ op die US Woordfees. (Foto: Gemma Garman)

Kort Onderhoude met Aaklige Hekse is ʼn eenvroustuk wat bestaan uit sketse waarin hekse die stereotipes van vrouwees in die samelewing verteenwoordig.

“ʼn Vrou wat nie in die samelewing inpas nie, word dikwels steeds maklik as ʼn heks gebrandmerk,” verduidelik Maude Sandham, wat die produksie saam met Louis Roux vir die US Woordfees op Stellenbosch vervaardig het. Sandham is self in dié eksperimentele produksie te sien.

“Elke skets is soort van ʼn greep of uittreksel uit hulle lewe en hulle probeer oorleef in ʼn samelewing wat nie baie vriendelik is met vroue wat nie in ʼn spesifieke boksie pas nie.

“In hierdie stuk word die wêreld op sy kop gedraai – ʼn slaaptydstorie word ʼn groteske ontgogeling, ʼn romantiese ete word ʼn ritueel van opoffering, en ʼn geskiedenistesis word ʼn paranoïese selfportret,” sê Sandham.

Die produksie is egter veel ligter en meer humoristies as wat dit klink, belowe Roux, medeskepper en skrywer van die stuk.

“Die vraag is hoe hanteer elke vrou die lewe waarin sy leef, hoe verdedig sy haarself en wat doen sy saam met haar groter groep om die wêreld se siening oor die sogenaamde ‘hekse’ te verander,” sê hy.

Maude Sandham. (Foto: Gemma Garman)

Sandham sê die karakters is onder andere ʼn ma wat ʼn storie lees vir ʼn kind en ʼn Matie-student. “Ons maak ook grappies oor Liewe Heksie.”

“Die dinge wat hierdie mense doen, is nie hekserig met punthoede en hobbelneuse nie,” lag Sandham. “Dit is eintlik net vroue wat dinge probeer doen en hulle word verkeerd verstaan.

“Daar is egter ʼn paar pertinente vrae wat mense hulself gaan moet afvra ná die kyk van hierdie stuk.”

Dié stuk debuteer op die US Woordfees op Stellenbosch. Kort Onderhoude met Aaklige Hekse is op 12, 13, 14 en 15 Maart te sien in die Fringe-tent. Kaartjies kos R50 deur Computicket en R60 by die deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.